Cullen: ‘Leinster het respek vir SA spanne’

Leo Cullen – Leinster se hoofafrigter. (Foto: Nicolas Tucat/AFP.)

Leinster verloor nie sommer ʼn rugbywedstryd nie. Selfs wanneer hulle kwansuis ʼn “swakker” span kies het hulle nogtans te veel skietgoed vir ʼn klomp van hul teenstanders.

Nou is die Ierse klub op ʼn kort safari na Suid-Afrika waartydens hulle teen die Lions en die Bulls op Ellispark en Loftus Versfeld sal kragte meet.

En volgens Leo Cullen, Leinster se afrigter, is sy span opgewonde oor die komende Verenigde Rugbykampioenskap-tweestryde.

“Ons het soveel respek vir Suid-Afrikaanse spanne. In my grootwordjare het ek hul vordering in die Curriebeker- en Superrugbyveldtog gevolg,” het Cullen gesê.

Anders as Stuart Barnes en Antoine Dupont wat vroeër gal gebraak het oor die Suid-Afrikaanse spanne in Europese kompetisies is hy opgewonde oor die toekoms van die Verenigde Rugbykampioenskap.

“Dit sal nou ons eerste keer op die ikoniese Ellispark wees; dieselfde geld natuurlik vir Loftus Versfeld. Die Bulls het ons verlede jaar in die halfeindstryd geklop en ons het baie respek vir alles wat hulle oor die jare vermag het.”

Volgens Cullen is hy opgewonde om ʼn land te besoek wat rugbymal is.

“In Suid-Afrika is rugby op die voor- én agterblaaie van die koerante – daar is nie baie ander lande wat dit kan sê nie. Ek dink dit is juis wat my so opgewonde oor die VRK maak:  ʼn Mens hoop dat die tweestryde teen spanne soos die Bulls en die Stormers nie net vir die volgende twee of drie jaar met ons sal wees nie, maar sommer vir 80 jaar.”

Leinster het tans 15 van sy 16 VRK-wedstryde gewen en hy het net vroeër gelykop teen die Stormers in Ierland gespeel.

Die Bulls het inderdaad verlede jaar ’n slag geslaan toe hy die Ierse kragreus met 27 – 26 in Dublin getroef het.

Leinster het voor daardie nederlaag slegs 21 van sy 225 wedstryde in die RDS-stadion verloor. Die beginspan was gelaai met 13 toetsspelers en hulle is ongetwyfeld die keur van Europese rugby.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.