Curriebeker: baie op die spel vir nie-franchise’e

Die Goue Leeus se kaptein Jaco Kriel vier 2015 se titel (Foto: stuff.co.nz)Curriebekertitel

Die Goue Leeus se kaptein Jaco Kriel vier 2015 se titel (Foto: stuff.co.nz)

Die gebrek aan motivering speel maar alte duidelik ʼn rol in die vertonings van die spanne uit die ses Superfranchise’e wat in die opstellende ronde van die Curriebeker speel.

Vier van die ses franchise-spanne is onder die sewe onderste spanne. (Dis nou as ʼn mens die Welwitchias ignoreer wat weer, soos in sy vorige deelname in die destydse Vodacombekerreeks, niks tot die kompetisie bydra behalwe rekord verloortellings nie).

Die Blou Bulle (laaste), die Kings (tweede laaste), die Sharks XV (derde laaste) en die Goue Leeus (sewende laaste) het dusver almal in mindere of meerdere mate naam weggegooi.

Net twee van die ses franchise is dus tussen die boonste sewe spanne, naamlik die Westelike Provinsie (derde) en die Vrystaat XV (sesde).

Is dit oorgerustheid deur die sogenaamde grotes, of sommer net ʼn gebrek aan diepte of sommer blote traak-my-nieagtigheid? Wie sal weet…

♦ In elk geval, die naweek is daar vir die agt spanne wat almal om die drie plekke in die latere Curriebeker Premierliga meeding, heelwat op; die spel.

Die Pumas speel tuis teen die Goue Leeus XV, en die Griffons is tuis teen die Bulls wat desperaat vir  ʼn sege is na net een oorwinning in sy sewe wedstryde tot dusver. Die Griffons het verlede week ʼn honderdtal een die Welwitchias behaal en het vyf van sy sewe wedstryde gewen.

♦  Nóg ʼn aanspraakmaker onder die nie-franchise’e, die Luiperds, is ook tuis. Hulle speel teen die WP, die voorste van die franchise-spanne op Olënpark – en vir die jong manne van die Kaap sal dit  ʼn openbaring wees hoe hard ʼn koue rugbyveld in die aand kan wees.

Boonop is die Luiperds allermins te versmaai. Hulle het verlede naweek 51 punte teen die Blou Bulle aangeteken – en selfs al sukkel die Bulle vanjaar, kan só ʼn vertoning deur die Noordwesters nie sommer weggevee word nie.

♦  Die wedstryd der wedstryde in die naweek se reeks is ongetwyfeld die Vrystaatse vyftiental wat Kimberley toe moet reis om die voorloper in die reeks, Griekwas, aan te durf. Griekwas het verlede week, met ʼn enkele punt, teen die WP sy onoorwonne rekord prysgegee en behoort ondanks ʼn paar beserings weer moeilik wees om in toom te hou.

♦  Die OP Kings speel Vrydagaand tuis teen die Sharks vyftiental in ʼn stryd om die tweede laaste plek.

Bepalings –

Vrydag:
19:00 –  OP Kings vs Sharks
Saterdag:

15:00 – Pumas vs Goue Leeus XV
15:00 – Griffons  vs Blou Bulle
17:05 – Griekwas vs Vrystaat XV
19:10 – Luiperds vs WP

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

At van Jaarsveld ·

Wys jou net as daar nie gekoop kan word nie beteken hulle niks. Ploeg met ander se kallers

Frans C ·

Die meeste spanne wat deelneem en sukkel is die spanne wat in die Super 18 reeks speel, want hul moet kort-kort spelers uit die Curriebekerspan onttrek om beseerde Super 18 spelers te vervang.

Dus is die Curriebeker ‘n afgewaterde reeks totdat Springbokke en Super 18 spelers terugkeer om ‘n verskil te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.