Curriebeker begin vroeër, wel oor dubbelronde gespeel

Die bepalings vir vanjaar se Curriebeker-premierliga is Woensdag bekend gemaak en die reeks sal wel, soos deur SA Rugby besluit is, oor twee rondes gespeel word.

Met elke span wat teen elk van die ander ses moet speel, begin die reeks reeds op 21 Julie en die eindstryd sal op 28 Oktober gespeel word.

Die sewe spanne wat aan die reeks deelneem, is die Vrystaat Cheetahs, die Blou Bulle, die Goue Leeus, Westelike Provinsie, Sharks, Griekwas en Pumas.

Die verdedigende kampioen, die Vrystaat Cheetahs, sal die reeks op 21 Julie afskop wanneer hulle die Sharks in Bloemfontein verwelkom.

In die eerste ronde sal die Blou Bulle, verlede jaar se naaswenners, die volgende dag in Kimberley met Griekwas kragte te meet terwyl die Pumas die Sondag die Goue Leeus in Nelspruit sal ontvang. Die Westelike Provinsie het in die eerste ronde ʼn loslootjie.

♦  Die Curriebeker- Eerste Liga sal in Augustus se laaste naweek afskop en word oor ʼn enkelronde beslis. Die spanne wat sake sal uitspook, is die Griffons, Valke, Luiperds, Boland Kavaliers, Grens Bulldogs, Oostelike Provinsie, SWD Arende en die Welwitschias van Namibië.

♦  Die halfeindrondes in die Premierliga is vir die naweek van 21 Oktober bepaal en die eindwedstryd, asook die eindstryde van die provinsiale o.19- en o.21-kompetisies, word op Saterdag 28 Oktober gespeel. Die Eerste Liga se halfeind is op 14 Oktober en die eindstryd op 20 Oktober.

Die openingsrondes van die Curriebeker oorvleuel met die Super-uitspeelwedstryde, maar dit is ʼn besluit wat na ʼn aanbeveling van die franchisekomitee aan die uitvoerende bestuur oor die skedulering van die kompetisie geneem is.

Daar is besluit om die Curriebeker vroeër as wat beplan is te begin en die wedstryde op weeksdae met enkele uitsonderings te skrap.

“Die provinsies se rugbybase het hierdie model verkies bo die speel van ʼn klomp wedstryde in die week. Die franchise-spanne wat moontlik hierdeur geraak word, is in die beplanning in ag geneem,” het SA Rugby se uitvoerende hoof, Jurie Roux, verduidelik.

Hy sê die terugkeer na die sewe spanne vir die Premierliga, met al die spanne wat weg én tuis teen mekaar speel, sal die intensiteit van die krag-teen-krag-kompetisie verhoog. “Die feit dat ons ʼn promosie-uitdaagreeks tussen die wenner van die Eerste Liga en die laagste geplaaste Premierligaspan heringestel het, sal tot die reeks bydra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boesman ·

“…oor twee rondes gespeel word.” Ek het gedink die spel word met een ovale gespeel? Moet dit nie “rondtes” wees nie? Maroela, gee asseblief uitsluitsel. Rondes vs. rondtes skep verwarring.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.