Curriebeker: Blou Bulle gee Leeus streepsuiker

(Foto: Blue Bulls/Twitter)

Die lig brand weer helder in die Ligblou-tonnel, maar die donker wolke pak al hoe dreigender saam om die Leeus se Curriebekerspan.

Die Blou Bulle het Saterdag op Loftus Versfeld tot die vierde posisie op die puntelys opgeskuif toe hulle die Leeus met 30 – 19 geklop het nadat hulle rustyd met 20 – 0 voor was.

Die Leeus het tot sewende afgeskuif en sal straks nou op van die Lions-spelers wat hul verpligtinge in die Verenigde Rugbykampioenskap afgehandel het, moet staatmaak om hul posisie te verbeter.

Maar die Curriebekerreeks is reeds by die halfpadmerk en binnekort kan die Bulle, Westelike Provinsie en Haaie ook met hul topspelers versterk word wanneer die VRK-reeks eindig.

Boonop het die Pumas en Vrystaat-Cheetahs reeds ʼn groterige voorsprong opgebou en sal daar nie veel langer gewag kan word om vir die uitspeelrondes te kwalifiseer nie.

Die Leeus was redelik ongelukkig om nie vroeg die voortou te geneem het nie.

Hulle was vol vuur en die regtervleuel Prince Nkabinde het in die sewende minuut ʼn drie gedruk. Die losskakel Tiaan Swanepoel het reeds die doelskop waargeneem toe die TV-skeidsregter beslis het dat Nkabinde op pad doellyn toe uitgetrap het en die drie gekanselleer is.

Swanepoel se strafskoppoging in die 12de minuut het een van die regoppale getref en nog ʼn kans was daarmee heen.

Die Bulls het eers in die 23ste minuut die voortou geneem nadat Morné Steyn met ʼn strafdoel geslaag het.

Dit het die vuur by die tuisspan aangesteek en hulle het hul voorsprong kort ná rustyd tot 23 – 0 gerek voordat die Leeus punte kon aanteken.

Die Blou Bulle se Jan-Hendrik Wessels en Reinhardt Ludwig het albei geel kaarte in die tweede helfte gekry, wat die deure vir die Leeus moes oopmaak, maar hoewel die Bulle vir ’n ruk met net 13 spelers  moes klaarkom, was die slag reeds geslaan.

Die Leeus, wat enduit probeer veg het, se Michael van Vuuren het eers in die 63ste minuut die eerste van sy twee drieë en sy span se eerste drie druk.

Puntemakers:

Bulle 30 (20). Drieë: Jan-Hendrik Wessels, Chris Smit, Reinhardt Ludwig. Doelskoppe: Morné Steyn (3). Strafdoele: Steyn (2). Skepdoel: Steyn.

Leeus 19 (0). Drieë: Michael van Vuuren (2), Rynhardt Jonker. Doelskoppe: Tiaan Swanepoel (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.