Curriebeker: Blou Bulle gee WP taai dwarsklap

Scarra Ntubeni kry ʼn rooi kaart in die 36ste minuut. (Foto: Hans Linde)

Hoogvatte, boorvatte en laatvatte is jare al deel van rugby en ʼn mens wonder of dit ooit uitgeroei sal word.

Vrydagaand op Nuweland was dit die Westelike Provinsie se beurt om deur te loop toe die haker Scarra Ntubeni, wat nie ʼn vuil speler is nie, ʼn rooi kaart in die 36ste minuut gekry het toe hy Zak Burger geloop het en sy skouer kontak met sy teenstander se nek en kop gemaak het.

Die televisieskeidsregter Egon Seconds het nie ʼn oomblik geaarsel nie en ook geen versagtende omstandighede gevind nie.

Dis mos die opdrag van Wêreldrugby aan skeidsregters, vat die oortreders vas in ʼn poging om die spel veiliger te maak.

Soos hulle in tennis sê: punt, stel en wedstryd.

Die Blou Bulle en WP pak mekaar op Nuweland. (Foto: Hans Linde)

Die WP, wat ná net 45 sekondes voor was nadat die skrumskakel Paul de Wet ʼn drie gedruk het wat deur die losskakel Tim Swiel verdoel is, kon in die volgende 79 minute net twee strafdoele byvoeg.

Die groot vraag is as Ntubeni (en honderde ander spelers voor hom) nie in sy lang loopbaan (ook by die Bokke) geleer het om laer te duik nie, hoe gaan hy dit nou aanleer?

Die Bulle is ná die oorwinning weer voor op die Curriebeker-puntelys (28 punte), hoewel die Haaie (24 punte) sake kan deurmekaarkrap wanneer hulle Saterdagmiddag teen Griekwas speel.

Wat kommerwekkend vir die WP is, is dat hulle (17 punte) vyfde van agt spanne op die puntelys is agter die Bulle, Haaie, Pumas en Griekwas.

Ja, die WP is sonder verskeie van hul Springboksterre wat teen die Britse en Ierse Leeus speel, maar wat het geword van hul byna onuitputbare diepte, of speel die meeste van die talentvolle spelers nou vir ander spanne of oorsee?

Die Blou Bulle en WP pak mekaar op Nuweland. (Foto: Hans Linde)

Die Bulle het nie te goed in die eerste helfte vertoon nie en afgesien van spogvertonings deur Johan Goosen (losskakel) en Johan Grobbelaar (haker) was daar nie veel om oor huis toe skryf nie.

Maar die sagmaakspel van Marcell Coetzee-hulle voorlangs het die WP se kragte getap en dit was nie ʼn geval van of nie, maar van hoe ver die Bulle sou wen.

Met Goosen wat weer al die toutjies getrek het, wonder ʼn mens hoe lank hy nog uit die Springbokspan gehou kan word.

Punte: Blou Bulle 34 (17): Drieë: Richard Kriel, Johan Grobbelaar, Zak Burger, Cornal Hendrickse. Doelskoppe: Johan Goosen (3), Chris Smith. Strafdoele: Goosen (2).

Westelike Provinsie 13 (13): Drie: Paul de Wet. Doelskop: Tim Swiel. Strafdoele: Swiel (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MakersMark ·

Bulle het die WP geboelie in die voorspelers. En Bulle het seker drie drieë weggesmyt met swak hantering – telling kon maklik 50+ gewees het. En dit op Nuweland….skandes…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.