Curriebeker: Bok Frans kelder Griekwas

Frans Steyn Saterdag in aksie. (Foto: Cheetahs Rugby/Facebook)

Frans Steyn het al menige rugbyspan met sy skopskoen gekelder.

Saterdag in Kimberley het dié veelsydige Springbokagterspeler ʼn bietjie soet aan die Vrystaat-Cheetahs se goor seisoen verskaf toe hy 17 punte in sy span se Curriebekersege van 22-18 oor Griekwas bygedra het.

Steyn se visier was reg ingestel en sy lang strafdoel kort voor die einde het die Poubloues finaal geknak net toe dit wou lyk asof Griekwas hul eerste oorwinning in die Superrugby Unlocked- en Curriebekerreekse in albei spanne se laaste wedstryd van die seisoen sou behaal.

Maar soos telkemale vantevore was dit so naby … en so vrek ver.

Daar was maar baie min vir die Cheetahs op die spel. Die hart is ʼn paar maande gelede reeds uit hul siel geruk met die aankondiging dat hulle nie weer in die Pro14-reeks gaan speel nie, maar die Lions, Stormers, Bulls en Sharks wel.

Dit was ʼn bitter pil om te sluk en het tot ʼn groot uittog van spelers gelei.

Hou maar dop, ʼn hele paar ander spelers gaan ook volg en met die Sharks wat nou miljoene in die bank gaan hê, gaan hulle die Vrystaat se spens ál leër stroop.

Vir Griekwas was dit van die begin af ʼn opdraande stryd sonder ʼn ordentlike spelersbegroting.

Hoe dit reggestel gaan word, weet ons nie, want die geldkrane het opgedroog, die geldkoek is gesny, die Covid-19-pandemie is ver van hokslaan af.

Klubrugby se dae is straks vir die volgende paar maande steeds getel, studenterugby is ook in die weegskaal en waar gaan Griekwas nog spelers vind … en hulle dan behou?

Tog was daar baie ligpunte vir albei spanne, ʼn hele paar opwindende spelers het na vore getree op wie gebou kan word, tensy die kaartehuis inmekaar tuimel.

Punte:

Vrystaat-Cheetahs 22 (10): Drie: Marnus van der Merwe. Doelskop: Frans Steyn. Strafdoele: Steyn (5).

Griekwas 18 (6): Drieë: Gideon van der Merwe, Daniel Kasende. Doelskop: George Whitehead. Strafdoele: Tinus de Beer (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.