Curriebeker: Bonuspuntsege vir die Streeptruie oor Griekwas

Foto: @WP_RUGBY/Twitter

Die rugby wat tans voortgesit word, pas nie in almal se kraal nie. Indeendeel, baie ondersteuners sal baie min byval daarmee vind.

Dis nie die media wat só sê nie, maar die Westelike Provinsie se afrigter, John Dobson, nadat hy vroeër in die week oor die afgelope seisoen gesels het.

Dis maar ongelukkig die patroon wat in die meeste Curriebekerwedstryde en ook vroeër in die Superrugby Unlocked-reeks ontvou het. Hardlooprugby en ondersteunende spel se voet. Dryfmaal en rolmaal, en skop en skop is aan die orde van die dag.

Saterdagmiddag op Nuweland het die WP sy Curriebekerkragmeting met Griekwas met 34-17 gewen nadat die Streeptruie rustyd met 17-7 voor was. Die WP het vyf drieë (drie na rolmale) gedruk teenoor twee en sodoende ʼn bonuspuntesege behaal.

ʼn Mens moet seker ook simpatie met die spelers hê, want hulle het ook vir maande lank aan die kortste ent getrek en kon nie speel of behoorlik oefen nie. Dan hang die Covid-19-swaard ook oor hul koppe.

Wie wil ook op Kersdag oefen of reis en op Tweede Kersdag speel?

Die meeste van hul kontrakte is steeds gesny en in plaas daarvan dat ʼn nuwe toepassing van die reëls by die afbreekpunte opwindende spel oplewer, vind die teenoorgestelde plaas.

Spelers wat grond toe gaan, plaas baie selde die bal en klou daaraan vas? Hoekom?

Ai, hoe verlang ʼn mens na die vars briesie soos wat Johan Ackermann en John Mitchell ʼn hele paar jaar gelede by die Leeus ingeblaas het nie en baie spanne ook daaraan gebyt het nie. Wat het daarvan geword?

Maar die WP kan tog tevrede voel met die bonuspunt, want dit plaas hom op 31 punte, net vier punte agter die Blou Bulle (35), met die Leeus (29) in die derde plek, gevolg deur die Haaie (28) en Vrystaat-Cheetahs (21) wat Sondag in Bloemfontein speel.

* Punte:
WP (34): Drieë: Bongi Mbonambi (2), Dan du Plessis, Jaco Coetzee, Chad Solomons. Doelskoppe: Tim Swiel (3). Strafdoel: Swiel.
Griekwas 17 (7): Drieë: Eduan Keyter, Sibabalo Qoma. Doelskoppe: Tinus de Beer, André Swarts. Strafdoel: De Beer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.