Curriebeker: Bulle begin reeks met 23 Unlocked-punte

Die Bulls se Arno Botha in aksie teen die Pumas-verdedigers. Foto: GB Jordaan.

Vanjaar se Curriebekerreeks begin amptelik Vrydag wanneer die Haaie teen die Pumas in Durban speel. Die aksie gaan Saterdag voort met die Griekwas wat gasheer vir die Leeus speel, terwyl die WP die Blou Bulle op Nuweland aanvat.

Maar met die punte van die pasvoltooide Superrugby Unlocked-reeks wat net so na die Curriebeker-toernooi oorgedra word, sal ’n span soos die Griekwas ’n rits wedstryde moet wen voordat hulle met die Bulle se afskop-ligapunte kan saamgesels.

Die Pretorianers – wat die afgelope naweek as die Unlocked-kampioenspan aangewys is – het 23 ligapunte agter hul naam. Dit is 20 meer punte as die Griekwas en 16 meer as wat die Pumas het.

Die dae waar afrigters en kapteins in onderhoude sê dat hul span elke toernooi op ’n nuwe bladsy kan begin, is vir eers iets van die verlede in die Covid-19-era.

Tog skeel hierdie stand van sake ’n hardebaard-afrigter soos die Pumas se Jimmy Stonehouse nie veel nie. Hy is eerder trots op die moedige wyse waarop sy span teen die groter en meer welvarende franchise-unies presteer het.

Die Laevelders het veral in die tweede helfte van die afgelope naweek se Bulls-wedstryd op Loftus Versfeld gewys dat hulle op die hoogste vlak van die sport in Suid-Afrika hoort.

Jimmy Stonehouse is een van die beste rugbyafrigters in Suid-Afrika. Argieffoto.

“In die Unlocked-reeks het ons teen franchise-spanne gespeel wat oor ongelooflike diepte beskik en ons het vooraf geweet waarvoor ons onsself inlaat. Ja, daar is ’n agterstand op die punteleer. Maar die wyse waarop ons gespeel en gewys het wat in ons steek, beteken vir ons tien keer meer as die punteleer,” het Stonehouse Woensdagoggend aan Maroela Media gesê.

Om die Curriebeker-punteleer vinnig in perspektief te plaas: Die Pumas sal dus byvoorbeeld vier wedstryde (weliswaar sonder enige bonuspunte) moet wen voordat die Laevelders eers gelyk met die Pretorianers se aanvangspunte kan breek.

“Dit sal beslis moeilik wees om die ander spanne in te haal. As ons die kragmetings teen die Stormers en die Sharks in die Unlocked-reeks gewen het, was dit ’n ander storie. Die kanse om die trofee te wen is dus bitter skraal, maar dat ons ’n paar spanne gaan skrikmaak, is vir seker.”

Statisties gesproke het die Bulle, Haaie, Westelike Provinsie en Cheetahs die beste kans om vir die Curriebeker-halfeindstryde te kwalifiseer.

Die Leeus – wat 12 punte vanaf die Unlocked-toernooi oorgebring het – sal egter hul sokkies moet optrek indien hulle onder die topvier wil eindig.

Volgens Stonehouse is die grootste uitdaging vir ’n afrigter in die Covid-19-era om te verhoed dat spelers die virus opdoen.

Anders as die meeste ondernemings toets rugby-unies weekliks hul spelers vir Covid-19, terwyl die media die uitslae met valkoë dophou.

“Jy kan jou spelers soveel moontlik probeer beskerm, maar jy weet nie watter restaurant of winkel hy gaan besoek waar hy die virus moontlik kan opdoen nie. Dit is waaroor jy jouself weekliks die meeste bekommer: Wie is positief wanneer die toetse gedoen word?”

Curriebeker-punteleer:

  1. Blou Bulle 23 punte
  2. Haaie 19 punte
  3. Westelike Provinsie 19 punte
  4. Cheetahs 17 punte
  5. Leeus 12 punte
  6. Pumas 7 punte
  7. Griekwas 3 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Die Wolf ·

Die behoort n kompetisie op sy eie te wees. Hierdie is n groot klug aangesien daar nie n manier is wat die spanne onder die voorstes verby gaan steek nie. Ek ry die gevoel dat daar net vir die groter bonde gesorg word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.