Curriebeker: Bulle lyk seker van halfeindplek

Die Blou Bulle se Nick de Jager dop nog ‘n Pumas-speler om. (Foto: GB Jordaan)

Die Blou Bulle lyk seker van ʼn plek in die halfeindronde van die Curriebeker-reeks.

Ná hul sege van 39-29 (rustyd 27-17) oor die Pumas op Loftus Versfeld is die Pretoriase span voorlopig (tot Saterdag) boaan die punteleer.

Die Pumas moet albei hul oorblywende wedstryde (teen Vrystaat en die Goue Leeus) elk met ʼn bonuspunt wen om die Bulle in te haal, en sal ver moet wen om hulle op ʼn batige puntesaldo te troef. Dis nou as die Bulle hul laaste wedstryd teen die Westelike Provinsie verloor.

Dit was ʼn vinnige wedstryd, met albei spanne wat graag hardloop, ook een van swak skoppe deur hul teenstanders.

Die Bulle se hanteerwerk was uitstekend, selfs onder druk, wanneer hulle van agter af gehardloop het, maar hul dissipline het in veral die eerste helfte nog gepla.

Daar was ook heeltemal te veel skoppe aan albei kante, maar veral deur die Bulls se Manie Libbok, in die teenstanders se hande, wat tot teenaanvalle gelei het.

Dayan van der Westhuizen druk een van die Blou Bulle se ses drieë teen die Pumas. (Foto: GB Jordaan)

Die Bulle het in die laaste 12 minute, of só, ná vele fases op die Pumas se doellyn nie kon deurdring nie, en hulle sal dit moet regstel as hulle in die reeks wil vorder. Hul verdediging was dikwels swak georganiseer om teenaanvalle te stuit.

Vir die Pumas het veral Marnus Schoeman voorlangs die oog met sy harde werk by die afbreekpunte gevang. Agter was Ruwellyn Isbell se vaart en voetwerk opvallend, en met sy werkywer kan hy dalk in ʼn puik sewesspeler ontwikkel. Chris Smith was op losskakel weer oordeelkundig, en sy skopwerk uit die hand uit was in die kol.

Nick de Jager, flank van die Bulle, wat oral was, goed gekeer het, en heelwat aanvalle vorentoe gevoer het, was die speler van die wedstryd.

In die Curriebeker- Eerste Liga het Grens die Oostelike Provinsie in Oos-Londen met 39-26 geklop.

Die puntemakers –

Blou Bulle 39 (27) – Drieë: Hanro Liebenberg, Jade Stiglingh (2), Dayan van der Westhuizen, Ivan van Zyl, Jano Venter. Doelskoppe: Manie Libbok (3). Strafdoel: Manie Libbok.

Pumas 29 (17) – Drieë: Marnus Schoeman, Marko Janse van Rensburg, Neil Maritz, Morné Joubert. Doelskoppe: Chris Smith (3). Strafdoel: Chris Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.