Curriebeker: Bulle rooiwarm en toe yskoud teen Griekwas

Bulle teen die Griekwas (7 Mei 2022) (Foto: GB Jordaan)

Jare gelede is daar altyd gesê dat wanneer die Ligbloues op Loftus Versfeld onder een kombers jag, is daar perde.

Saterdagmiddag op Loftus het Griekwaland-Wes dit in die eerste helfte aan die bas gevoel toe die Bulle hul Curriebeker-wedstryd met 48-38 gewen het.

Die Bulle was rustyd reeds met 36-5 voor en die wedstryd was in die sakkie, of so het hulle geglo, want die Poubloues was nie bestand teen die oormag nie.

Maar nadat die Bulle hul voorsprong kort ná rustyd tot 41-5 gerek het, het daar ʼn gebrek aan dissipline ingekruip wat tot twee geelkaarte en ʼn insinking gelei het.

Griekwas het begin dy, die bal na links en regs gerek en die Bulle kon nie al die gate toestop nie.

Afgesien van ʼn strafdrie, het hulle drie ander drieë gedruk om ʼn bonuspunt te verwerf om sodoende in die wedloop te bly vir die uitspeelrondes.

Wat ʼn mens wys geword het, is dat ervare en talentvolle spelers soos Madosh Tambwe, Canan Moodie, Harold Vorster en Chris Smith, wat ook in die Verenigde Rugbykampioenskap die oog tref, op Curriebekervlak amok maak.

Ook dat die Bulls ʼn yster-skrum het terwyl losvoorspelers soos WJ Steenkamp, Cyle Brink en die kaptein, Arno Botha, hul man in enige geselskap kan staan.

Aan Griekwas se kant was die kaptein, Niel Otto, kookwater en die oud-Tukkie Hanru Sirgel vol vuur.

Kan Griekwas verder vorder?

ʼn Mens skud kop oor hul pak, wat sal sukkel om hul man in die uitspeelrondes te staan.

Maar as dit van veggees, passie en durf gaan afhang, kan Griekwas bly verras.

Die Bulle is nou weer voor op die puntelys met 37 punte, met Griekwas vierde met 21 punte gevolg deur die Pumas (wat een wedstryd minder gespeel het) vyfde met 19 punte.

Punte: Bulle 48 (36). Drieë: Stravino Jacobs (2), Cyle Brink, Reinhardt Ludwig, Canan Moodie, Jan-Hendrik Wessels, Harold Vorster. Strafdoel: Chris Smith. Doelskoppe: Smith (5).

Griekwas 38 (5). Drieë: Sango Xamlashe, Strafdrie (7 punte), Munier Hartzenburg, Hanru Sirgel (2), Chris Hollis. Doelskoppe: Zander du Plessis (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.