Curriebeker: Bulle trap op Leeus se stert

(Foto: GB Jordaan)

Eendag, wanneer die Leeus se losskakel Gianni Lombard met sy kleinkinders oor rugby gesels, kan hy hulle vertel van daai skepskop.

Ja, daai skepskop wat Saterdag op Ellispark met speeltyd verby, links verby van die paal getrek het.

As Lombard in die kol was, sou die Leeus hul Curriebekerwedstryd met 35-33 gewen het. Dit sou hul kans lewend gehou het om steeds die uitspeelrondtes van die reeks te haal.

(Foto: GB Jordaan)

Maar nadat die Bulle met 33-32 gewen is, is die agterdeur vir hulle oop om tot die uitspeelrondtes deur te dring.

Die Bulle het reeds in die derde minuut die voortou met 7-0 geneem nadat Elrigh Louw gedruk het en Johan Goosen die doelskop oorgeklits het.

Toe David Kriel slegs drie minute hierna die telling 12-0 in die Bulle se guns met sy drie gemaak het, het die gevaarligte vir die Leeus begin flikker.

(Foto: GB Jordaan)

Die ou kwaal van boedel oorgee in Suid-Afrikaanse derbies het kop uitgesteek.

Maar spelers soos Quan Horn, Edwill van der Merwe, Ruan Dreyer, Ruben Schoeman en Francke Horn wou niks daarvan weet nie.

Hulle het Louw, Nizaam Carr, Marcell Coetzee, Ruan Nortje, Johan Grobbelaar en Mornay Smith-hulle trompop geloop.

Dit het die Bulls gewurg en hulle het 15 strafskoppe en ʼn strafdrie afgestaan (ook ’n geel kaart aan Grobbelaar). Dis iets wat die afrigter Jake White sal laat kopkrap. Ook dat die Bulle 28 keer misgeduik het.

(Foto: GB Jordaan)

Wanneer laas het dit gebeur?

Vir 70 minute was  dit ʼn wipplankstryd, met die Bulle wat hul neuse voorgehou het. Hulle het genoeg gedoen om voor te loop en moes net die sakkie toeknoop.

Met slegs tien minute oor en die telling 33-32 in die Bulle se guns het hulle gedryf en gerolmaal, maar die Leeus se verdediging het gehou.

(Foto: GB Jordaan)

Toe kry die Leeus nuwe lewe en dwing hulle ʼn strafskop af sowat 45 meter van die Bulle se doellyn.

Moes hulle nie eerder pale toe geskop het nie, of was dit ʼn rapsie te ver?

Nadat die kantlyn opgesoek is asook ʼn paar fases later, was speeltyd verby … toe Lombard in besit gestel is.

Hy het gemik, maar die skepskop was links verby.

Puntemakers:

Leeus 32 (20): Drieë: Francke Horn, strafdrie (7 punte), Edwill van der Merwe (2).  Doelskoppe: Sanele Nohamba (2). Strafdoele: Nohamba, Lombard.

Bulle 33 (26): Drieë: Elrich Louw, David Kriel, Embrose Papier, Mornay Smith, Marcell Coetzee. Doelskoppe: Johan Goosen (4).

(Foto: GB Jordaan)

(Foto: GB Jordaan)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Geluk Bulle, onthou, as is verbrande hout. Die scorebord praat op die einde van die dag.

Frans ·

Die treurmare van Suid Afrikaanse rugby.Ons spanne behalwe een wat nog ‘n kans het om ‘n kompetisie te wen kom nie die mas op in internasionale kompetisies nie en span dan die spanne in hul geheel of gedeeltelik in om darem as ‘n troosprys te probeer om ‘n plaaslike kompetisie te wen.
Die gebruik sien ‘n mens ook in skoolrugby.Die eerste span val uit maar die tweede en derde span het nog ;n kans.
Dan word die spanne met eerste span spelers gelaai en die manne wat so hard probeer het is hul plekke kwyt.Die Curriebeker is nou daar om jong belowende spelers die geleentheid te gee om verder te ontwikkel en om nou spelers wat nie die mas internasionaal kom opkom nie in te sluit maak dit ongedaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.