Curriebeker: drie spanne se aanspraak verswak

Jaco Taute - weer reg vir Stormers. (Foto: Stormers)

Jaco Taute – weer reg vir Stormers. (Foto: Stormers)

Drie spanne se aanspraak op `n plek om die reeks om die Curriebeker is verswak deur die nederlae wat hulle die afgelope naweek in die opstelronde gely het.

Griekwas (eerste), die Pumas (derde) en die Boland (vierde) is steeds die sterkste aanspraakmakers.

Die Grens (17-38 teen Boland), die Luiperds (14-23 teen die Vrystaat) en die Valke (15-42 teen die Blou Bulle) sal nou sukkel om onder die boonste drie nie-franchise-bonde te eindig,

Die Pumas, met `n sege van 35-13 oor die Sharks-vyftiental, Boland, en die Suidwestelike Distrikte (SWD), wat die Welwitschias 96-5 in Windhoek verniel het, het hul kanse versterk.

Hoewel die Westelike Provinsie (WP) die Griffons 38-26 op Stadspark, Athlone, geklop het, verswak dit nie laasgenoemde se aanspraak nie.

Die WP se najaging van die eerste plek in die opstelronde is bloot van akademiese belang omdat die ses franchise-bonde se deelname aan die Curriebekerreeks verskans is.

Die Streeptruie was rustyd Saterdag 17-12 voor en die senters Jaco Taute en EW Viljoen het elk twee drieë gedruk.

Die Springbok Taute het blykbaar volkome van sy besering herstel en is luidens berigte weer gereed om vir die Stormers oorweeg te word.

George Whitehead - voordte puntemaker. (Foto: Cheetahs Rugby)

George Whitehead – voorste puntemaker. (Foto: Cheetahs Rugby)

Die Griffons se losskakel en die voorste puntemaker in die reeks, George Whitehead, het 16 punte (twee doelskoppe, drie strafdoele en `n skepdoel) vir sy span bygedra om sy groottotaal tot 140 op te skuif.

Op Arborpark, Newcastle, het die Pumas Saterdag uit die staanspoor hul stempel op die wedstryd teen die Sharks-vyftiental afgedruk en `n paar puik drieë aangeteken. Reynier van Rooyen s’n het op die Pumas se eie doellyn begin.

Die rustydtelling was 21-6 in die wenspan se guns.

Boland was Donderdag in `n verwoestende bui in die Buffalostad-stadion in Oos-Londen en het, ondanks `n foutbesaaide eerste helfte, Grens van die veld af gespeel. Hy het die wedstryd teen `n sterk wind in begin, maar was rustyd al 17-5 voor.

Nico Scheepers het 13 punte met vyf doelskoppe en `n strafdoel vir die wenspan behaal.

Die Vrystaat-vyftiental moes Vrydag in Bloemfontein spook om die Luiperds 23-14 te klop nadat die Noordwesters rustyd 11-10 voor was.

Albei spanne het die bal probeer rondgooi, maar die wedstryd is gekenmerk deur `n gebrek aan afronding.

Die SWD was rustyd in die Hage Geingobstadion reeds 47-5 voor en het 14 drieë teen die Namibiërs gedruk.

Martin du Toit het drie daarvan gedruk en Daniel Roberts twee. Jaquin Jansen se drie en sewe doelskoppe het 19 punte aan hom besorg.

Tony Jantjies - 22 punte. (Foto: OP Rugby)

Tony Jantjies – 22 punte. (Foto: OP Rugby)

Tony Jantjies, die Springbok-losskakel Elton se broer, was die ster in die Blou Bulle se vierde oorwinning in die reeks toe hulle die Valke Vrydag 42-15 op Loftus Versfeld, Pretoria, geklop het.

Hy het 22 punte opgestapel deur twee drieë te druk en ses te verdoel.

Die Bulle speel in die jongste tyd wesenlik beter en het van die 14de plek tot die negende op die punteleer geklim.

Die puntemakers –

WP 38 (17) – Drieë: Jaco Taute (2), Chad Solomon, Eital Bredenkamp, EW Viljoen (2), Justin Phillips. Doelskoppe: Scott van Breda (4).

Griffons 26 (12) – Drieë: De Wet Kruger, Danie van der Merwe. Doelskoppe: George Whitehead (2). Strafdoele: Whitehead (3). Skepdoel: Whitehead.

Pumas 35 (21) – Drieë: Hoffman Maritz, Reynier van Rooyen, Nardus van der Walt, Jacques Kotzé, Lambert Groenewald. Doelskoppe: Justin van Staden (5).

Sharks-vyftiental 13 (6) – Drie: Nkululeko Marwana. Doelskop: Tristan Tedder. Strafdoele: Tedder (2).

Grens 17 (5) – Drie: Billy Dutton, strafdrie, Makazola Mapimpi. Doelskop: Logan Basson.

Boland 38 (17) – Drieë: Shaun Adendorff, Ryan Nell, Chadley Fenn (2), Francois Hanekom. Doelskoppe: Nico Scheepers (5). Strafdoel: Scheepers.

Vrystaat-vyftiental 23 (10) – Drieë: Refuoe Rampeta, Reniel Hugo. Doelskoppe: Neil Marais (2). Strafdoele:Marais (2), JP Smith.

Luiperds 14 (11) – Drie: Jaco Hayward. Strafdoele: Rhyno Smith (3).

Welwitschias 5 (5) – Drie: Lesley Klim.

SWD 96 (47) – Drieë: Martin du Toit (3), Daniel Roberts (2), Andisa Ntsila, Christo du Plessis, Jacquin Jansen, Janneman Stander, Kurt Haupt, Layle Delo, Lodewyk Uys, Thor Halvorsen, Wilneth Engelbrecht. Doelskoppe: Jansen (7), Thomas Kean (4), Hansie Graaff (2).

Blou Bulle 42 (35) – Drieë: André Warner, Dan Kriel, Ivan van Zyl, Max Mxoli, Tony Jantjies (2). Doelskoppe: Jantjies (6).

Valke 15 (10) – Drieë: Andrew van Wyk, Coert Cronjé. Doelskop: Karlo Aspeling. Strafdoel: Aspeling.

Opgesomde punteleer –

Griekwas 41, WP 37, Pumas 36, Boland 35, Vrystaat 29, Goue Leeus 26, Griffons 25, SWD 25, Blou Bulle 23, Luiperds 23, Grens 20, Valke 18, Sharks 1, OP 12, Welwitschias 1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.