Curriebeker-eindstryd: Eindstrydseges is gelykop

Morné Steyn. Foto: GB Jordaan.

’n Bietjie statistieke is altyd lekker vóór ’n groot kragmeting, maar dit vlieg gewoonlik by die stadion se hekke uit sodra die losskakel toestemming kry om die wedstryd te begin.

Die Blou Bulle en die Haaie was al vier keer in die eindstryd van die Curriebeker slaags. Soos wat die eindfluitjie na die afloop van elke wedstryd geblaas het, het die beker twee keer sy pad na Pretoria en twee keer na Durban gevind.

Dan het die manne wat meer vertroud is met die geheime van Excel met nóg ’n juweel vorendag gekom: In die laaste vyf eindstryde wat op Loftus Versfeld beslis is, is daar 31 drieë gedruk en 293 punte aangeteken.

Terwyl kenners mor oor die gebrek aan ondernemingsgees in Suid-Afrikaanse rugby, sal ’n aksiebelaaide eindstryd ongetwyfeld vir ’n welkome verandering sorg.

Maar eindstrydrugby is deesdae soos om jou splinternuwe Fortuner vir jou meisie te gaan wys: Jy is opgewonde oor die eindbestemming, maar jy het nie veel ooghare vir die moontlike modderspatsels wat daardie grondpad voor haar huis kan opdis nie.

Met ander woorde – spanne wil graag wen, maar hulle wil ook hul kaarte so veilig as moontlik speel.

Curwin Bosch. Foto: ANA.

Tog begin elke eindstryd op ’n nuwe bladsy. En volgens Conrad Breytenbach, voormalige Sewesbok, Blou Bul en die man wat die openingsdrie van die 1998 Curriebeker-eindstryd gedruk het, kan Duane Vermeulen en Morné Steyn die verskil tussen die twee spanne wees.

“Dinge kan óf reg óf verkeerd vir jou in ’n eindstryd loop, maar ek dink die Bulle sal die kitaar slaan. Duane en Morné – die spilpunt waarom die Pretorianers se wedstrydplan draai – het hopeloos te veel ervaring,” het Breytenbach gesê.

“Die Haaie se flambojante spelpatroon kan egter teen hulle tel in ’n eindstryd waar jy kalm en konstruktiewe rugby moet speel. Tog beskik al twee spanne oor ongelooflike stelskoppers (Curwin Bosch, Chris Smith en Steyn) en strafskoppe kan ook ’n groot rol speel.”

  • Curriebeker eindstryde tussen die Blou Bulle en die Haaie

1956: 9 – 8 vir Noord-Transvaal

1990: Natal 18 – 12 Noord-Transvaal

2003: Blou Bulle 40 – 19 Haaie

2008: Haaie 14 – 9 Blou Bulle

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Die Wolf

Die beste span sal wen

Chris dupreez

Die Haaie het n fantastiese losskakel ,Springbok materiaal, maar ek hoop maar die Bulle wen.