Curriebeker-eindstryd: Ja, maar wat daarvan?

Die WP – 2017 se Curriebekerkampioen. (Foto: Twitter)

Dit was weer een van daardie “ja, maar”-jare in Suid-Afrikaanse rugby.

Niemand kan dit betwis nie dat die Westelike Provinsie verdien het om Saterdag op Kingspark die Curriebeker te wen toe hy die Sharks met 33-21 in die eindstryd geklop het.

Maar dit was nie die allerbeste getuigskrif vir Suid-Afrikaanse rugby nie … net soos die Lions in die eindstryd van die Superrugbyreeks toe hulle op Ellispark teen die Crusaders verloor het en net soos die Bokke wat nie die All Blacks en Wallabies in die Rugbykampioenskap kon klop nie.

Dit help nie om te sê “ja, maar” die Bokke het die All Blacks amper op Nuweland geklop nie – hulle het nie.

Dit help nie om te se “ja, maar” die Lions het eerste op die Superrugbyreeks se puntelys geëindig nie. Toe dit saak gemaak het, het hulle uitgesak – net soos die Sharks.

Dit help nie om se “ja, maar” die land se top-Springbokke het nie in die Curriebekereeks gespeel het. As ek reg getel het, was daar 12 Springbokke en ‘n Skotse internasionale speler in die opdrafspanne.

Die res is die volgende geslag Bokke.

As jy ʼn WP-ondersteuner is, sal jy verheug wees oor die vertoning van die vaste vyf, wat die Sharks in die skrums vermorsel het en die grondslag gelê het. Ook die vertoning van die agtsteman, Nizaam Carr.

In die skadu

Die loskopstut JC Janse van Rensburg – moes die man nie al jare gelede by die Lions reeds die Springboktrui oor die kop getrek het nie? En die nuweling-Bok Wilco Louw het die Sharks se Thomas du Toit en Ross Geldenhuys ʼn les geleer.

Ook het die WP-losskakel, Robert du Preez, vir Curwin Bosch in die skadu gestel, en het die WP se Skotse senter Huw Jones uitgetroon. Damian Willemse het baie talent, Dillyn Leyds is reeds ʼn Springbok en Ruhan Nel en Seabelo Senatla is gesoute Blitsbokke. Voorlangs kan JD Schickerling en Cobus Wiese nog diep spore trap.

En die Sharks? Het hulle te vroeg die kruin bereik? Is daar ʼn gebrek aan groot-wedstryd-temperament, speldissipline? Kan die spelers die volgende stappie na toetsrugby neem?

Ons sal nie nou weet nie, behalwe om te sê: “Ja, maar…”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.