Curriebeker (en OP) nou éérs deurmekaar

ep-kings-logoDie Curriebekerreeks, net 26 uur voor die 2016-afskop, is nog ʼn warboel van onsekerheid. En nog olie op die vuur in Suid-Afrikaanse (of is dit Kings?) rugby is die likwidering van die OP Rugby-unie (Edms) Beperk.

Die likwidasiebevel is aanvanklik uitgestel oor bewerings dat die OP-maatskappy ʼn borg verkry het, wat egter geblyk het nie die antwoord sou wees nie. Die  maatskappy is Donderdag toe onder finale likwidasie geplaas.

Hoe die likwidasie die Southern Kings se deelname aan aanstaande jaar se Superreeks sal raak, sal nog gesien moet word. Blykbaar is SA Rugby in samesprekings met die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse owerhede asook Tony McKeever,

Hy is die man wat as uitvoerende hoof van die Southern Spears die dryfkrag was dat die OP toegelaat moet word om in die Superreeks te speel en dit by wyse van ʼn hofsaak reggekry het.

Die katastrofiese gevolge daarvan is welbekend – en die enigste pluspunt was dat die Lions eindelik uit die draaikolk van verwarring kon ontsnap.

♦  Dit lyk egter na ʼn uitgemaakte saak dat die OP Kings na die Eerste Liga afgeskuif sal word, en ook dat hulle nie deur die Luiperds vervang sal word om die Premierliga op nege spanne te hou nie.

Die voorste drie nie-franchise se spanne is ná die opstellende ronde vir die Curriebekerreeks gepromoveer na die Premierliga waar hulle saam met die ses franchise-unies sou meeding.

Daar was ʼn voorstel dat die Luiperds die Kings se plek inneem. Omdat die unies per epos moes stem weens die tydsfaktor, móét daar eenparigheid wees – maar die Griffons het toe ‘nee’ gestem.

SA Rugby het nog nie sy aankondiging oor die aangeleentheid gedoen nie. Dit word later Donderdag verwag, maar daar is net twee opsies: die OP speel in die reeks met ʼn klomp onder 19s en -21s aangevul deur klubspelers, of die kompetisie gaan met net agt spanne voort.

Dit sal natuurlik ʼn herindeling van die ligabepalings noodsaak – en intussen raak dit die voorbereiding van al die spanne in die kompetisie omdat niemand weet teen wie en wanneer hulle speel nie.

♦  Daar is natuurlik ook die moontlikheid dat SA Rugby sal besluit om  ʼn saamgeflanste span met bostaande spelers toe te laat waar al die bonde ook versoek sal word om van hul spelers wat hulle dalk nie sal benodig nie, aan die OP vir die kompetisie te ‘leen’.

Die realiteit is egter dat al die unie hul spelers gekontrakteer het met die oog op bou vir die toekoms en ook as reserwekrag in die geval van beserings. Hulle sal dus nie sommer geneë wees om spelers af te staan  nie.

En hoe sterk sal so ʼn span van die bonde se weggooi-reserwekrag en die jong klomp wees?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.