Curriebeker-enkelronde nie die ware Jakob

Die verkorte Curriebekerreeks doen niks om die aansien en passie vir die eens trotse kompetisie te herstel nie.

Die SA Rugbyunie het Maandag, soos verwag, aangekondig dat die sewe spanne wat vir die Premierliga gekwalifiseer het, elk drie wedstryde tuis en drie weg sal speel. Dit word gevolg deur die twee halfeindstryde en die eindstryd.

Daar is glo nie genoeg weke om ʼn dubbelronde te speel nie.

Ja, met al die ander kompetisies wat die éíntlike gans is wat die goue eiers in die Superreeks en die Rugbykampioenskap lê, is dit seker so.

Maar nee, niemand glo dat dit dalk aanstaande jaar anders sal wees en ʼn dubbelronde gespeel sal word nie.

Waarom? Sal aanstaande jaar meer weke hê as vanjaar?

Die stelsel is ver van ideaal af. Die Westelike Provinsie, byvoorbeeld, speel weg teen die Goue Leeus, die Blou Bulle en die Pumas – drie taai kalante in ʼn reeks waarin die Springbokke nie sal kan speel nie.

Daar is nie, soos in ʼn dubbelronde, kans vir regmaak as jy sou gly nie.

ʼn Verdere nadeel van die stelsel is dat die steeds kwynende toeskouergetalle nie deur hierdie Curriebekerstelsel ʼn hupstoot sal kry nie.

Die een ligstraaltjie is dat die spanne, met die uitsondering van die Vrystaat Cheetahs, nie oorvleueling met ander kompetisies sal hê nie. Verlede jaar het die Superreeks met die Curriebekerreeks oorvleuel terwyl toetse ook nog gespeel moes word.

Vanjaar sal daar, met enkele uitsonderings, op die plaaslike toetsnaweke van die Rugbykampioenskap geen Curriebekerwedstryde wees nie.

Die Vrystaat Cheetahs sal egter in hul laaste vier wedstryde met letterlik ʼn B-span moet speel – ʼn groot uitdaging vir die Cheetahs wat pas 11 Pro14-spelers aan oorsese spanne afgestaan het.

Hul deelname aan die Pro14-reeks begin reeds weer op 1 September.

♦ Die Eerste Liga van die Curriebekerkompetisie skop op 24 Augustus af. Die agt spanne speel ʼn dubbelronde teen mekaar met ʼn halfeindstryd en die eindestryd wat op 19 Oktober gespeel word.

Die agt deelnemende spanne is die Griffons, Valke, Luiperds, Boland Kavaliers, SWD Arende, Grens Bulldogs, Welwitschias en die Oostelike Provinsie.

Die volledige Premierliga-bepalingslys (tuisspanne eerste) –

Vrydag 17 Augustus
19:00 – Vrystaat Cheetahs vs Blou Bulle
Saterdag 18 Augustus
14:05 – Pumas vs Griekwas
Vrydag 24 Augustus
19:00 – Goue Leeus vs Griekwas
Saterdag, 25 Augustus
15:00 – Sharks vs Blou Bulle
17:15 – Westelike Provinsie vs Vrystaat Cheetahs

Vrydag 31 Augustus
19:00 – Pumas vs Westelike Provinsie
Saterdag 1 September
15:00 – Blou Bulle vs Goue Leeus
17:15 – Vrystaat Cheetahs vs Sharks
Vrydag 7 September
19:00 – Sharks vs Pumas
Saterdag 8 September
15:00 – Griekwas vs Blou Bulle
17:15 – Goue Leeus vs Vrystaat Cheetahs
Saterdag 15 September
15:00 – Goue Leeus vs Westelike Provinsie
17:15 – Griekwas vs Vrystaat Cheetahs
19:30 – Blou Bulle vs Pumas
Saterdag 22 September
15:00 – Vrystaat Cheetahs vs Pumas
17:15 – Sharks vs Goue Leeus
19:30 – Westelike Provinsie vs Griekwas
Saterdag 29 September
14:00 – Westelike Provinsie vs Sharks
Vrydag 12 Oktober
19:00 – Pumas vs Goue Leeus
Saterdag 13 Oktober
15:00 – Griekwas vs Sharks
17:15 – Blou Bulle vs Westelike Provinsie
Saterdag 20 Oktober
Halfeindstryde
Saterdag 27 Oktober
Eindstryd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael ·

Ai is dit nou die einde van die currie beker ook.Wat is volgende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.