Curriebeker: Griekwas deur, Pumas kou naels

Griekwas en die Pumas het met 13-13 gelykop gespeel. (Foto: Griekwas/Facebook)

Die groot vraag of jy moet pale skop ná ʼn strafskop om die telbord aan die rol te hou en of jy eerder hoek toe moet skop om ’n drie te probeer druk om jou voorsprong verder te vergroot, was Saterdagmiddag in Kimberley weer die groot besprekingspunt.

Griekwas en die Pumas het met 13-13 gelykop gespeel en alles het dus daarvan afgehang of die Westelike Provinsie die Haaie Saterdagaand met ʼn bonuspunt kon klop om die vierde span in die halfeindronde saam met die Bulle, Haaie en Griekwas (en dalk die Pumas) te word.

Die Pumas kan hulself skop dat hulle nie die kragmeting met Griekwas gewen het nie. Hulle het in die vaste fasette oorheers, vyf van Griekwas se lynstaanballe gegaps en stewig in die skrums gestaan. Maar laat in die wedstryd het die losskakel, Eddie Fouche, eerder kantlyn toe geskop as om pale toe te mik.

Ja, die wind het erg gewaai, maar die Pumas kon toe nie ʼn drie druk om die sege te beklink nie.

Griekwas, wat baie goed verdedig het, kan hulself ook skop, want met ʼn skerpskutter soos George Whitehead in jou span wen jy mos ʼn wedstryd eerder met strafdoele as om te verbrou ná ʼn rits skoppe hoekvlag toe en om dan die opvolgende lynstaan of besit te verloor soos wat ʼn paar keer gebeur het.

Maar nou ja, dit was die wedstrydplan en daarby is gehou.

Daar was baie op die spel – plekke in die halfeindronde van die reeks.

Selfs nadat die eindfluitjie geblaas het, het die spelers, van die plaasvervangers en selfs een of twee beamptes mekaar aan die truie getrek en gerem en vierkant in die oë gekyk.

Maar nadat die gemoedere kalmeer het, het die manne mekaar tog omhels.

* Punte: Griekwas 13 (3): Drie: Christopher Hollis. Doelskop: George Whitehead. Strafdoele: Whitehead (2).

Pumas 13 (5): Drieë: Tapiwa Mafura, Sebastian de Klerk. Strafdoel: Eddie Fouché.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.