Curriebeker: Griekwas klop WP weer

Foto: @GriquasRugby/Twitter

Die Griekwas het die Westelike Provinsie vanmiddag in Kimberley vir die tweede keer in vanjaar se Curriebeker geklop. Die manne van die Noord-Kaap het die besoekers voorlangs oorheers en dit het gelei tot meer balbesit en gebiedsvoordeel.

Die oorwinning van 46-25 beteken die Griekwas skuif op na die derde plek op die punteleer. Die Griekwas en die span in die vierde plek op die punteleer, die Pumas, pak mekaar volgende Saterdag in Kimberley. Albei kan steeds kwalifiseer vir die halfeindstryde as die WP nie daarin kan slaag om die Haaie in Durban te klop nie. Die Haaie is in die tweede plek op die punteleer agter die Bulle. Beide spanne het reeds hul plek in die halfeind bespreek.

Vanmiddag se wedstryd was nie een om oor opgewonde te raak nie weens al die hanteerfoute en strafskoppe. Dalk was dit die skelpienk truie van die tuisspan wat die WP se aandag afgetrek het of dalk is die WP se spelers net daaraan gewoond om die bal uit die lug te vang wanneer die wind waai. Verskeie afskoppe is uit die lug verbrou en dit het die WP telkemale onder druk geplaas wat net tot nog punte gelei het.

Die eerste helfte was ʼn wipplank-affêre en dit het gelyk of die WP dalk teen rustyd kan voorloop. Slot Adré Smith is oor vir sy tweede drie van die helfte en George Whitehead se doelskop het die rustydtelling 24-18 gemaak.

Die tweede helfte is deur die tuisspan oorheers. Kaptein Ruan Steenkamp het vroeg in die helfte gaan druk. Vleuel James Verity-Amm het nog twee drieë vir die manne in pienk gaan druk en die WP kon net antwoord met ʼn drie deur Neethling Fouché. Die Griekwas se ses drieë teen die WP se drie wys dat die besoekers nooit hul spoedmanne in die agterlyn genoeg hardloopkans gegee het nie.

Soos sake nou staan het die twee “kleintjies”, die Griekwas en die Pumas, gewys daar is nie genoeg diepte by talle van die sogenaamde groot unies nie en boonop gaan hulle binnekort in Europa moet meeding in die United Rugby Championship.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anoniem ·

Veels geluk Griekwas, julle het die wen verdien. Bring die ou Sport Pienaar beker terug. Die WP, Leeus, Cheetahs, Valke en Griffons hoort in daardie liga.

Tubac ·

Nee hulle en die pumas hoort in die Curriebeker kompetisie.

MakersMark ·

En dit gaan van sleg na ellendig vir die province…….groot fout met die finansies, bestuur en afrigting. Al daai rugby skole as voeding vir provinsiale spelers en dan lyk dit so…..?

Anoniem ·

Korrek, dit is wat gebeur wanneer amateur klubs die unie beheer. In die laaste aantal jare kon nie Fleck of Dobson iets uitgerig kry nie. Ek dink selfs Snorre sal beter doen.

jou gewete ·

Kan iemand my se hoekom hoekom moet dit n Sondag middag wees, daar is mos 6 ander dae. DIS VERKEERD . BAIE VERKEERD

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.