Curriebeker: Griekwas maak dit drie uit drie teen die WP

Foto: Tafel Lager Griquas via @WP_RUGBY/Twitter

Wanneer enige rugbyspan se dissipline lol, kan hy na alle waarskynlikheid van ʼn oorwinning vergeet.

Dit het die Westelike Provinsie Vrydagaand in Kimberley opnuut agtergekom toe Griekwas hul Curriebekerwedstryd met 22-20 gewen het. Die Poubloues was rustyd met 12-10 voor en dit was hul derde agtereenvolgende oorwinning oor die WP nadat hulle in 2021 twee keer baas was.

Die skeidsregter, Jaco Peyper, het die WP 18 keer gestraf en ook ʼn geel kaart aan Ben-Jason Dickson in die eerste helfte vir ʼn siniese oortreding gewys.

Ja, daar sal in die Kaap oor sekere beslissings gebrom word, maar as jy nie by die reëls hou nie, gaan jy gestraf word.

Griekwas het die helfte minder strafskoppe afgestaan, hoewel die plaasvervanger-stut Kudzwai Dube kort voor die einde ʼn geel kaart vir ʼn gevaarlike hoogvat gekry het.

WP het kort hierna ʼn doodsnikdrie gedruk, maar die koeël was reeds deur die kerk.

Wanneer jy 18 strafskoppe afstaan, verloor jy kontinuïteit, en as jy boonop deur iemand soos die oud-Tukkie Zander du Plessis elke keer met 50 meter teruggejaag word en die daaropvolgende lynstaaningooi verbeur, sal jy die dure prys betaal.

Aan Griekwas se kant was Du Plessis en die skakelpaar Theo Boshoff en Stefan Ungerer die uitblinkers agterlangs.

Voorlangs was die instaan-kaptein Niel Otto rooiwarm.

Vir die WP was die vleuel Leolin Zas gevaarlik op die aanval, die senter Cornel Smit het ʼn paar keer die oog getref en die losskakel Tim Swiel was vuurwarm tot yskoud.

Griekwas het met dié oorwinning tot vierde op die Curriebekerpuntelys opgeskuif, agter die Bulle (10), Vrystaat-Cheetahs en Haaie (almal ook 9 punte).

Die WP is sesde met ses punte.

Kan Griekwas die uitspeelrondes haal? Dit sal baie afhang van beserings en hul spelersdiepte. Die Poubloues is reeds sonder hul besielende kaptein Stoney Steenkamp en hoewel daar ʼn hele paar Varsity-spelers Kimberley toe gelok is, gaan daar nog groot asem opgehou word.

Punte:
Griekwas 22 (12): Drieë: Andries Schutte, Gustav du Rand. Strafdoele: Zander du Plessis (4).
Westelike Provinsie 20 (10): Drieë: Leolin Zas (2). Doelskoppe: Tim Swiel (2). Strafdoele: Swiel (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.