Curriebeker: Griekwas skok Haaie in Durban

Die Haaie en Griekwas pak mekaar in Durban. (Foto: Griekwas/Facebook)

Daar wag groot kopkrap op die Suid-Afrikaanse rugbybase, want wat nou in die Curriebeker-reeks gebeur, gaan hulle nog baie slapelose nagte besorg.

Hoe dan anders, want hoe kan ʼn mens een van die topspanne in die land (Haaie) se vertoning beskryf wanneer hy op sy tuisveld teen ʼn kleiner bond (Griekwas), wat boonop vyf geel kaarte gekry het, steeds met 27 – 37 verloor?

In een stadium het Griekwas vir sowat sewe minute lank in die tweede helfte met net 12 spelers klaargekom nadat HJ Luus, Sibabalo Qoma en Adré Smith afgestuur is.

Vroeër het Stefan Ungerer en Janu Botha ook geel kaarte gekry, maar die Haaie kon dit nie uitbuit nie.

Teen 12 spelers in die tweede helfte en teen 13 spelers in die eerste helfte?

Dit was nie ʼn hierjy Haaie-span nie, want Anthony Volmink, Yaw Penxe, Werner Kok, Lionel Cronjé, Jeremy Ward, Curwin Bosch, Sanele Mohamba, Jaden Hendrikse, Reniel Hugo, Kerron van Vuuren, Lourens Adriaanse, Le Roux Roets en Thembelani Bholi is mos nie liggewigte nie.

Hoe kon hulle toelaat dat hulle so geboelie word? Hoekom was hul besluitneming só swak, hoekom het hulle soveel verkeerde besluite geneem?

Die Haaie het in Griekwas se strik getrap, hulle wou nie die ander wang draai nie, in plaas daarvan om die telbord aan die rol te hou.

Die Bulle is ná Vrydag sege oor die Westelike Provinsie (28 punte) eerste op die puntelys, met die Haaie (25) ʼn kortkop voor Griekwas (24), gevolg deur die Pumas (20), WP (17), Leeus (12) en Vrystaat-Cheetahs (10).

Ja, die Leeus-toer is uiters belangrik en ja, dit is die reddingsboei vir Suid-Afrikaanse rugby, maar die totale agteruitgang van byna al die Suid-Afrikaanse spanne moet kommer wek.

Maar breek ook ʼn lansie vir Griekwas se onbesonge Eduan Keyter, Jay-Cee Nel, George Whitehead en bielie-voorspelers soos Ruan Steenkamp en Gideon van der Merwe.

Punte: Griekwas 37 (21) Drieë:  Daniel Kasende, Janco Uys, Ederies Arendse, Sibabalo Qoma. Doelskoppe: George Whitehead (4). Strafdoele: Whitehead (3).

Haaie 27 (8): Drieë:  Mpilo Gumede, Thembelani Bholi, Reniel Hugo, Yaw Penxe. Doelskoppe: Curwin Bosch (2). Strafdoel: Bosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jakes ·

Die haaie se wiele is besig om af te val. As hulle langer met n onbekwame losskakel soos Bosch gaan speel sal hulle spoedig laaste op die punteleer verskyn. Ek bevraagteken die afrigtingspan se metodes en hul stereotipe spel.

SjN ·

Die piesangboere moet nog n paar spelers van die WP koop, resultate duidelik sigbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.