Curriebeker: Griekwas skok Vrystaat-Cheetahs

Die Cheetahs en Griekwas sê mekaar die stryd aan. (Foto: Cheetahs Rugby/Facebook)

Daar gaan baie vrae oor die Vrystaat-Cheetahs se vertoning in Saterdagmiddag se Curriebeker-wedstryd in Kimberley teen Griekwas gevra word.

Hoe verduidelik jy dit dat die Cheetahs, wat voor die kragmeting in nege wedstryde onoorwonne was en die pas saam met die Bulle aangee in vanjaar se Curriebeker-reeks, met 18-46 verneder is?

Dit teen span wat vyf wedstryde verloor het en in ʼn oorlewingstryd vir die uitspeelrondes gewikkel is.

Maar Griekwas was begeesterd, hulle wou wen, hulle het hul lywe vir spanmaats op die spel geplaas, hulle het gemaal, gedryf en getêkkel en het verdien om te wen.

Dit het die deur vir die Poubloues (26 punte) oopgeswaai om in vanjaar se uitspeelwedstryde betrokke te wees, want hulle is ewe skielik derde en twee punte voor die Haaie en vier punte voor die Pumas (22), wat vierde is.

Die Cheetahs se paadjie na ʼn moontlike eindstryd in Bloemfontein is erg beduiwel, want die Bulle (47) is ná Vrydag se oorwinning oor die Pumas nou vyf punte voor die Cheetahs, hoewel Ruan Pienaar-hulle een wedstryd minder gespeel het.

Het dit al voorheen gebeur?

Baie, want dis die aard van sport.

Dink maar terug aan die Springbokke se nederlae van 3-53 teen Engeland, 0-49 teen die Wallabies en 3-38 teen Ierland.

Op provinsiale vlak kom sulke skokke ook voor, want as jy ʼn span onderskat, nie met passie speel nie, swak dissipline het en slegs drie drieë druk en sewe afstaan, is daar groot fout.

Wat nog van 15 strafskoppe afstaan, ʼn geel kaart en ʼn strafdrie teen jou kry… dan soek jy mos vir groot moeilikheid.

Maar alle eer aan Griekwas, wat uit hul velle gespeel het.

Die agterspelers was kookwater en die voorspelers het die grondslag gelê vir ʼn briljante vertoning.

Punte: Griekwas 46: Drieë: Sango Xamlashe, Johan Mulder, Janco Uys, Luther Obi (2), Gustav du Rand, strafdrie (7 punte). Doelskoppe: Alex-Zander du Plessis (3). Strafdoel: George Whitehead.

Cheetahs 18: Drieë: Vihali Mosoi, Jeandré Rudolph, Johan van der Westhuizen. Strafdoel: Ruan Pienaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokkies ·

Wel gedaan Griekwas. Ek as Cheetah ondersteuner het geweet dat Griekwas ‘n ander span in Kimberley is, maar om so te verloor, het ek nie gedink nie. Op so ‘n dag wat Griekwas op alle silinders gevuur het, sou daar nie ‘n span in SA gewees het wat hulle sou wen nie. Dink hulle sou die Springbokke ‘n goeie go gegee het. Griekwas het die Cheetah geslaan met hulle eie medisyne….. Handloop rugby. Niks mooiers as hardloop rugby nie, geluk Griekwas.

hendrie ·

Hiert! Volgens jou sou geen ander span in die land die Griekwas kon troef nie. Vanwaar Gehasi? Maak jou oortuiging die Tsjieta pyne ‘n bietjie minder? :-)

SjN ·

Baie mooi gespeel Griekwas, n Moelike span om te klop, veral in Kimberley, wys net dit kan gedoen word, die Blikore is hard terug gebring aarde toe, wens jul span net voorspoed en sukses toe, Sterkte.
Bloubul groete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.