Curriebeker: Griekwas vee Cheetahs plat in derby

Die Griekwas het Saterdag vier drieë gedruk vir ʼn bonuspunt-sege. (Foto: Griekwas/Facebook)

Baie rugbyspanne het al voorheen in Kimberley se groot gat beland.

Saterdag was dit die Cheetahs se beurt.

Griekwas het hul rekening in vanjaar se Curriebekerreeks op hoë noot geopen deur hul bure met 31-10 te troef nadat hulle rustyd, teen die verloop van die spel in, met 7-3 voor was.

Waar hulle verlede Saterdag deur die Sharks platgevee is, het Griekwas Saterdag vier drieë gedruk vir ʼn bonuspunt-sege.

Die Cheetahs het in die eerste helfte oorheers, maar kon nie afrond nie. Die eerste punte is eers in die 29ste minuut aangeteken ná ʼn strafdoel deur die Cheetahs se Ruan Pienaar.

Griekwas het vasgebyt, verdedig asof hul lewens daarvan afhang en die vrugte in die tweede helfte gepluk toe hul voorspelers genoeg besit in die vaste fasette verseker het om die grondslag te lê.

Kyk, dis nooit maklik om teen Griekwas te speel nie en wanneer hulle boonop op hul tuisveld, wat intussen aan die Sol Plaatje-munisipaliteit verkoop is, begin kook, is daar nie baie spanne wat kan saam gesels nie.

Dink maar terug aan 1970 toe Griekwas die Curriebeker-eindstryd teen Noord-Transvaal met 11-9 gewen het en dink maar terug toe André Markgraaff die Poubloues met groot welslae afgerig het en sy bielies amok gemaak het.

As versagting het die Cheetahs met verskeie spelers gespeel wat hul buiging in die oranje trui gemaak het, maar daar was genoeg ervaring met Clayton Blommetjies, Howard Mnisi en Ruan Pienaar agterlangs en ʼn paar hardebaarde  soos Jacques Potgieter, Rynier Bernardo, Aranos Coetzee en Wilmar Arnoldi voorlangs.

Maar dit gaan ʼn opdraande paadjie vorentoe wees, want hul spelerspens is (weer) leeg gestroop.

Punte: Griekwas 31 (7): Drieë: Masixole Banda, Jay-Cee Nel,  Mwzanele Zito, Eduan Keyter. Doelskoppe: George Whitehead (4). Strafdoel: Whitehead.

Cheetahs 10 (3): Drie: Gideon van Wyk. Doelskop: Ruan Pienaar. Strafdoel: Pienaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.