Curriebeker: Haaie se Boeta knak Pumas

Grafika: Sharks/Facebook

Wanneer ʼn rugbyspan ʼn betroubare skopper in sy geledere het, is die slag halfpad geslaan.

Dink maar terug aan Naas Botha, Jonny Wilkinson, Dan Carter en Morné Steyn.

Staan maar onder die pale en kyk hoe die bal deur die mikke vlieg. Dit knak ʼn span, daar is geen teenvoeter daarvoor nie en dit laat die koppe hang.

Vrydagaand in die Mbombela-stadion, was die skoen aan die Haaie se losskakel, Boeta Chamberlain, se voet toe hy met al agt sy strafskop-pogings geslaag het.

Dit het die Haaie in staat gestel om die Pumas met 24-10 in hul Curriebekerwedstryd te klop nadat die besoekers rustyd met 12-10 voor was.

Die Pumas het ʼn duur prys betaal omdat hulle onder die fluitjie van die skeidsregter, Jaco Peyper, deurgeloop het.

Inteendeel, die Pumas het meer as dubbel soveel strafskoppe afgestaan en boonop met ʼn gebrek aan besit en gebiedsvoordeel en ʼn skrum wat in trurat beweeg het, sou daar net een wenner wees.

Tog het die Pumas die voorreg gehad om die drie van die wedstryd, en dalk nog ʼn aanspraakmaker vir drie van die seisoen, te druk.

Die beweging het byna op hul doellyn begin nadat hulle ’n strafskop gekry het, maar Peyper het voordeel toegelaat.

Die senter Eddie Fouche het ʼn skoppie oor die aanstormende Haaie se koppe gelos, die bal gevang en op loop gegaan.

Ná vele aangeë onder meer tussen Fouche, Tapiwa Mafura, Daniel Maartens en Lucky Dlepu het die flank Anele Lungisa ʼn behoorlike verjaardaggeskenk gekry toe hy in die hoekie vir ʼn langafstand-drie oorgeduik het.

Daar was ʼn tydelike oplewing by die tuisspan, maar met ʼn skrum op agtervoet kon hulle nie daarop voortbou nie.

Die Haaie is steeds onoorwonne in die reeks en spog met 18 punte ná vier wedstryde.

Hulle is vyf punte voor die Vrystaat-Cheetahs en agt voor die Bulle (albei het ʼn wedstryd minder gespeel), wat Saterdag met ʼn gelaaide span na Kimberley opruk om Griekwas na alle waarskynlik slae te gee om hul aanspraak te behou.

Vir die Pumas was dit weer ʼn geval van so hard probeer, maar met ʼn gebrek aan dissipline en bottervingers, het hulle weer tekort geskiet.

Punte: Haaie 24 (12): Strafdoele: Boeta Chamberlain (8).

Pumas 10 (10): Drie: Anele Lungisa. Doelskop: Tinus de Beer. Strafdoel: De Beer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.