Curriebeker: Haaie slag Leeus af

Foto: GB Jordaan

Wanneer jy een van die grootste en oudste rugbyunies in Suid-Afrikaanse rugby is, maar jy laaste op die Curriebeker-puntelys is en 56 punte in jou laaste wedstryd afstaan, sál daar vrae oor die afrigters gevra word.

Dit was Saterdag die voorland van die Leeus toe hulle op Ellispark met 56-14 deur die Haaie geklop is nadat die KwaZulu-Natallers rustyd met 28-0 voor was.

Die ironie is dat die Leeus genoeg besit verower het en hulle was ʼn hele paar keer naby die Haaie se doellyn, maar hulle kon nie afrond nie.

Is dit bloot die afrigters se skuld of moet die spelers ook pa staan vir die slegs twee uit 12 Curriebekerwedstryde wat hulle vanjaar kon wen? Wat van die 56 drieë en 416 punte wat hulle afgestaan het?

Dit is reeds deur die Goue Leeus-rugbyunie bevestig dat daar veranderinge aan die afrigtingstrukture gedoen sal word voordat die Verenigde Rugbykampioenskap tuis en in Europa sal begin.

Foto: GB Jordaan

Vir die Haaie was dit die ideale kleedrepetisie voordat hulle hul CB-bepalings afhandel.

Die Haaie sal tuisveldvoordeel vir een van die halfeindrondes hê en na alle waarskynlikheid teen die Bulle in die eindstryd speel.

Die Haaie was aan die begin van die reeks nie baie bestendig nie en was van louwarm tot kookpunt.

Hulle begin nou op al hul suiers vuur en hoewel hulle in skrums deur die Leeus oorheers is, is daar oorgenoeg skietgoed om tot die eindstryd deur te dring.

Met vaardige balspelers soos Anthony Volmink, Thaakir Abrahams, Lionel Cronje, Boeta Chamberlain, Grant Williams en Sanele Nohamba vuurwarm agterlangs, kan die drieë ingeryg word.

Met die nuwe aanwins Gerbrandt Grobler daar om op slot nuwe plofkrag te gee, baljaar Phepsi Buthelezi en Henco Venter voorlangs.

Vir die Leeus wag daar onsekere tye.

Daar is tog heelwat vaardige spelers soos Wandile Simelani, Jordan Hendrikse, die Tshituka-broers en Jaco Visagie, maar iewers is ʼn groot skroef los.

Punte: Haaie 56 (28): Drieë: Marius Louw, Thaakir Abrahams (3), Phepsi Buthelezi, Anthony Volmink (2),  Sanele Nohamba. Doelskoppe: Lionel Cronje (5), Boeta Chamberlain (3).

Leeus 14 (0): Drieë: Emmanuel Tshituka, Jaco Visagie. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.