Curriebeker: Haaie woel teen Leeus

Uit ‘n vorige wedstryd tussen die Haaie en die Leeus (Augustus 2021) (Foto: GB Jordaan)

Daar word baie vrae gevra oor die Leeus se vertonings en opmars in vanjaar se Curriebeker-reeks, maar dalk is hulle besig om die jongelinge hard en slaggereed te kry om aanstaande seisoen hul man te kan staan.

Die Haaie het die Leeus Saterdagmiddag op Ellispark met 45-31 verslaan om hul derde opeenvolgende oorwinning te behaal, terwyl dit die Leeus se derde agtereenvolgende nederlaag was.

Aanstaande seisoen sal die Curriebekerreeks uit agt spanne bestaan, (die huidige sewe spanne) asook die wenner van die Eerste Liga, wat outomaties bevorder sal word met sy posisie vir twee jaar verskans.

Die span wat laaste in die CB-reeks eindig, sal na alle waarskynlikheid tot die Eerste Liga in 2023 verdoem word.

Soos sake nou staan, is die Leeus laaste met slegs twee punte, met die Haaie voor (14 punte) gevolg deur die Vrystaat-Cheetahs (13), Bulle (10), Griekwas (9), WP (6), Pumas (5) en Leeus (2).

Dis skets ʼn donker prentjie, maar as daar gekyk word hoe die Leeus se jongelinge ontwikkel en hul vaardighede verbeter namate hulle gehard raak, is dit dalk nie ʼn slegte idee om die waagstuk aan te gaan nie.

Op papier het die Leeus nie veel van ʼn kans teen die veel meer ervare en geharde Haaie gestaan nie, met Yaw Penxe, Jeremy Ward, Werner Kok, Cameron Wright,  Wiehan Herbst, Reniel Huo, Le Roux Roets en Thebelani Boli wat vierkant in hul pad gestaan het en gewoel het.

Nie eens die drie geel kaarte wat die Haaie vir hul ongedissiplineerde spel ontvang het, het die Leeus ʼn goeie wenkans gegee nie.

Tog moet die vertonings van Divan Rossouw, James Mollentze (plaasvervanger), PJ Steenkamp en die Tshituka-broers, Vincent en Emmanuel, nie misgekyk word nie.

Punte: Haaie 45 (20): Drieë: Marnus Potgieter, Cameron Wright, Thembelani Bholi, Mpilo Gumede, Dan Jooste. Doelskoppe: Boeta Chamberlain (3), Sanele Nohamba. Strafdoele: Chamberlain (2), Nohamba (2).

Leeus 31 (7): Drieë: Boldwin Hansen, Emmanuel Tshituka, Divan Rossouw, Morné Brandon, James Mollentze. Doelskoppe: Vaughan Isaacs (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.