Curriebeker: hoe weeg die spanne in die halfeindronde op?

Dit was toe heel voorspelbaar dat die Vrystaat-Cheetahs ʼn misoes in die Curriebeker-reeks sou hê.

Nadat die Superrugbymat vroeër vanjaar onder die Cheetahs uitgepluk is, was hulle kanse in die Curriebekerreeks ook daarmee heen, hoewel hulle in daardie stadium nog die toon aangegee het.

Hoe die rugbybase dit van ʼn span kon verwag het om twee volwaardige groepe in die Pro14- en Curriebekerreeks te laat voortspeel, het baie vrae laat ontstaan en bitter min antwoorde gelaat.

Dit daar gelaat, want niemand kan betwis dat die Goue Leeus verdien het om die Vrystaat-Cheetahs Saterdag op Ellispark met 44-17 uit te stof om ʼn halfeindstryd op Nuweland teen die Westelike Provinsie af te dwing nie.

Die WP het vir ʼn tuiswedstryd gekwalifiseer nadat hulle die Sharks met 31-20 op Kingspark in Durban geklop het en die Blou Bulle het reeds Vrydagaand op Loftus Versfeld  by die agterdeur ingeglip deur die Pumas met 52-32 af te ransel.

Dit beteken dat die Sharks en Blou Bulle die naweek in die halfeindronde op Kingspark kragte meet en die WP speel tuis op Nuweland teen die Goue Leeus.

Hoe weeg die spanne vir die Curriebeker-halfeindstryde op:

Sharks (47 ligapunte): Moet niks lees in Saterdag se nederlaag teen die WP nie. Die Sharks het nie voluit gespeel nie en hulle het dieselfde paadjie gestap in vanjaar se Superreeks toe hulle ook swak teen die Lions gevaar het net om die volgende Saterdag byna te verras. Hulle het tien van hul 12 wedstryde gewen en het verdien om eerste op die puntelys te eindig.

Westelike Provinsie (37): Hulle was vanjaar wisselvallig. Hoe verduidelik jy hul nederlae teen Griekwas (34-44) en teen die Pumas (12-22), net om die volgende Saterdag weer hul beste voet voort te sit? Watter WP-span gaan Saterdag teen die Goue Leeus opdaag?

Goue Leeus (35): ʼn Paar weke gelede het dit nog om oorlewing gegaan, nou is die Goue Leeus een van die keurspanne in die reeks, veral met van hul Springbokke, soos Andries Coetzee, Courtnall Skosan, Ross Cronjé en Malcolm Marx terug om leiding te gee. Moenie verras wees as die Leeus deurglip nie. Welgedaan, Swys de Bruin!

Blou Bulle (32): Die verrassingspakkie in die reeks. Met John Mitchell in beheer, het die Blou Bulle die meeste punte (457) aangeteken en ook die meeste drieë (64) gedruk. Maar, hulle het ook die meeste drieë afgestaan (49).

Onthou gerus die Curriebeker-eindstryd van 2011 toe die onbesonge Leeus (met Mitchell as afrigter) die Sharks in die eindstryd met 42-16  afgeransel het. Maar Mitchell kyk na die groter prentjie, en hy wil ʼn gevestigde patroon daarstel, en ʼn nalatenskap agterlaat … en miskien het sukses te vroeg aangebreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Phillip ·

Dagsê Adam

Dit was inderdaad 31/20. Dankie, ons het die berig gewysig.

Groete

Phillip Bruwer, nms Maroela Media

HENNIE NEUHOFF ·

Enkele opmerkings – Eerstens is ek verbaas dat Adam se insetsel nie verwyder is nie. Dit gebeur klokslag as jy Pieter Kruger op sy foute wys maak hy dit reg en terselfdertyd verwyder hy die een se post wat hom daarop gewys het.
Hierbo skep hy weereens ‘n baie skewe prentjie. Toe die Supermat onder hulle uitgeruk was, het die Curriebeker nog nie eers begin nie, hoe kan jy sê hulle het daardie stadium die toon aangegee? Die feite is dat die CC eers begin het die naweek toe die Super kwarteindrondtes gespeel het. Daarby was die Leeus, Sharks en Stormers betrokke. Die Cheethas en Bulle was die enigste Super spanne wat die eerste rondte met hul Super spelers kon begin. Vandaar die vreeslike pak slae wat die Sharks se 3e span teen die Cheethas gekry het. Die Cheethas het ten minste nog 4 CC wedstryde gespeel voor die Pro 14 begin het. Ons soek objektiewe menings.

Gerhard ·

Mooi so Blou Bulle
Wys jou wat ‘n afrigter kan doen.
WP Ondersteuner.

Jaybee ·

Wil net geluk sê aan die Bulle en John Mitchell, ek het nie gedink my span sal die half eindstryd haal nie. My voorspelling is dat die WP en die Haaie dit gaan uitspook in die eindstryd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.