Curriebeker kan vir vuurwerk sorg

Verwater of te nie, die Curriebeker kan die komende naweek vir heelwat vuurwerk sorg, met elke enkele wedstryd deurslaggewend vir die deelnemende spanne, en verskeie uitvloeisels wat moontlik is.

In die Curriebekerreeks is die Sharks seker van ʼn halfeindstryd tuis, maar al vyf ander spanne wat in aksie is, kan vir een van die ander drie plekke in aanmerking kom; en in die Eerste Liga het die uitkloprondes reeds aangebreek.

Die grootste opwinding, en taaiste stryd, wag waarskynlik op Ellispark, waar die Goue Leeus (deur hul Springbokke versterk) en die verdedigende kampioen, die Vrystaatse Cheetahs (met hul Pro14-span), aanmekaarspring.

Wie ook al wen, het ʼn goeie kans om tuis in die halfeindronde te speel, tensy die Westelike Provinsie teen die verwagting in die Sharks, wat boaan die punteleer is, in Durban klop.

Laasgenoemde wedstryd sal ʼn belangrike karaktertoets vir die Streeptruie wees, want sou hulle nie wen nie, sal hulle minstens twee bonuspunte moet verdien om van hul tweede plek verseker te wees.

Vrydag se verloorspan in die kragmeting tussen die Blou Bulle en die Pumas op Loftus Versfeld is een van die twee spanne wat droë bek sal sit, en die wenspan moet vyf punte verdien om enigsins sy aanspraak lewend te hou.

Die geheelprentjie is allermins so eenvoudig, en ʼn mens sal maar moet kyk wat gebeur.

Die beker wat in die Curriebeker- Eerste Liga op die spel is. (Foto: Saru)

Eerste Liga

In die reeks se eerste liga kan die strafste mededinging in die wedstryd Vrydag tussen die Valke en die Luiperds in Brakpan verwag word.

Die twee spanne was die vorige drie jaar ook in die halfeindstryd slaags, waar die Luiperds die afgelope twee jaar en die Valke in 2014 gewen het.

Die Griffons, die verdedigende kampioen, speel Saterdag in Welkom teen die Boland, en hoewel hy die gunsteling is om die wedstryd te wen, kan verwag word dat die Kavaliers ʼn harde neut sal wees om te kraak.

Afskoptye –

Curriebeker

Vrydag

19:00 Blou Bulle teen Pumas, Loftus Versfeld, Pretoria.

Saterdag

15:00 Sharks teen WP, Kingspark, Durban.

17:15 Goue Leeus teen Vrystaat, Ellispark, Johannesburg.

Eerste Liga

Vrydag

16:00 Valke teen Luiperds, Bosmanstadion, Brakpan.

Saterdag

15:00 Griffons teen Boland, Welkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.