Curriebeker-kollig Woensdag skerp op Loftus

Die kollig in die Curriebekerreeks val Woensdag skerp op Loftus Versfeld, waar die Blou Bulle en die Sharks in die Curriebekerreeks aanmekaar spring.

Dis albei spanne – nes die geval met Griekwas en die Westelike Provinsie is – se tweede van drie wedstryde in agt dae, en die spelers sal dit nou reeds aan hul lywe begin voel.

Die onoorwonne Bulle (twee wedstryde) is tans tweede op die punteleer, maar wat ligapunte betref gelyk met die Sharks, wat tot dusver twee van hul drie wedstryde gewen het.

ʼn Sege is vir albei van die uiterste belang, maar dit kan wees dat die Sharks net daardie tikkie sterker aansporing het.

Die Durbaniete moes drie spelers aan die Springbokgroep afstaan, en die Bulle net een.

Die Curriebeker-kampioen, die Cheetahs, sal op Nelspruit nog soveel moontlik punte wil verdien, voor hy sy Europese Pro14-ekspedisie aandurf.

Die Vrystaters kry oor ʼn raps meer as drie weke in Belfast, Ierland, sy eerste smakie van die nuwe reeks, en sal soveel moontlik Curriebekerpunte wil opstapel voordat sy keurbende vir die Suid-Afrikaanse reeks verlore is.

Afhangende van die spelers se wedstrydskerpte lyk die Pumaspan vir dié botsing sterker as die span wat die vorige week sleg teen die Sharks verloor het.

Sake in Kimberley sal ook fyn dopgehou word om te kyk of die tuisspan sy gesukkel tot dusver in die reeks te bowe kan kom.

Die agteros, Griekwas, is dringend op soek na ʼn sege om sy aansien te red, en die Cheetahs het getoon die Westelike Provinsie is nie onoorwinlik nie.

Afskoptye –

13:00 Griekwas teen WP, Griekwapark, Kimberley

15:15 Pumas teen Cheetahs, Mbombela-stadion, Nelspruit

17:30 Blou Bulle teen Sharks, Loftus Versfeld, Pretoria

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.