Curriebeker kry ’n internasionale geur

Die Haaie is tans die voorloper op die Premierafdeling se punteleer. SA Rugby het gister bevestig dat Georgië, Zimbabwe en Kenia ook deel van die Curriebeker-aksie sal word. Foto: GB Jordaan.

Die Haaie en die Cheetahs is tans die enigste twee onoorwonne spanne in die Curriebeker-reeks nadat hulle die afgelope naweek onderskeidelik met die Leeus en die Pumas afgereken het.

Maar met die Verenigde Rugbykampioenskap ook in volle swang, mor baie rugbyondersteuners dat dié roemryke plaaslike kompetisie taamlik afgewater is.

Tog wag daar opwindende nuus: SA Rugby (Saru) het gister bevestig dat Georgië, Zimbabwe en Kenia ook binnekort deel van die aksie sal word.

Dié drie internasionale vyftientalle sal saam met die Luiperds, Griffons, Valke, SWD Arende, Boland, die Oostelike Provinsie en Grens sake in die Curriebeker se Eerste Afdeling uitspook.

Suid-Afrika se rugbybase het verlede jaar besluit dat die wenner van die komende Eerste Afdeling sommer outomaties vir die groot kompetisie sal kwalifiseer – geen uitspeelwedstryde sal nodig wees nie.

Volgens AFP sal Kenia en Zimbabwe hul beste spelers vir die reeks tot hul beskikking hê, maar Georgië sal sonder hul Franse klubspelers moet klaarkom.

Die Oos-Europese span is tans die voorlopers in Europa se rugbykampioenskap en hulle hoop om vir die 2023-Wêreldbekertoernooi in Frankryk te kwalifiseer.

Die Springbokke het verlede jaar vóór die Britse en Ierse Leeus-toer ’n opwarmingswedstryd teen die einste Georgië gespeel.  Positiewe Covid-19-gevalle het egter ’n stokkie voor die tweede wedstryd gesteek.

Dan het Zimbabwe al vir verskeie Springbok-sterre gesorg: Gary Teichmann, Adrian Garvey, Bob Skinstad en Tendai Mtawarira (Beast) is almal in dié buurland gebore.

  • Die Curriebeker se Eerste Afdeling begin amptelik op 1 April met die eindstryd wat in Junie gespeel sal word.
  • Jongste Curriebeker-punteleer (Premier-afdeling):
  1. Haaie: 14 punte
  2. Cheetahs: 13 punte
  3. Blou Bulle: 10 punte
  4. Griekwas: 9 punte
  5. Westelike Provinsie: 6 punte
  6. Pumas: 5 punte
  7. Leeus: 2 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

As Georgie op volle sterkte is, sal hulle te sterk vir daai kompetisie wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.