Curriebeker nie meer die slagaar van SA rugby

Die Curriebeker-reeks moet die grondslag van Suid-Afrikaanse rugby wees.

Dit is een van die pleidooie van die gewese Springboklagterspeler en vermaarde afrigter Dawie Snyman om Springbokrugby weer `n krag te maak.

Volgens Snyman het die Superreeks die grootste skade nog aan Suid-Afrikaanse rugby gedoen.

Maar dit kan nie anders nie, want sonder die Superreekse en Rugbykampioenskap sou rugby reeds lankal doodgebloei het, insluitende die Curriebeker-reeks. Televisiemagnate trek die toutjies, want die spelers se salarisse moet betaal en die superstadions moet in stand gehou word.

Nooit is `n lang tyd, maar ek glo nie die Curriebeker sal ooit weer sy regmatige staanplek in SA rugby kry nie, al speel net sewe of agt spanne in aanstaande jaar se reeks. Ongelukkig sal die CB-reeks voortaan slegs as die voedingsbron vir Super- en toetsrugby dien.

Ja, dit was die goue era van Suid-Afrikaanse rugby, dit was die maatstaf (saam met klubrugby) waaraan almal gemeet is, dit was die dae toe daar nog 30 000 tot 40 000 toeskouers by CB-wedstryde was, maar dit was amateurdae, toe Noord-Transvaal, die Westelike Provinsie, Transvaal, die Vrystaat en later aan ook Natal, net twee keer per jaar teen mekaar gespeel het voordat hulle mekaar dalk in `n halfeindstryd of eindstryd aangedurf het, toe unies nie moes geld maak om te bestaan nie.  Die Bokke het Curriebekrugby gespeel, `n speler het met trots sy CB-wedstryde by sy CV gevoeg. Daar is video’s van eindsdstryde gemaak.

Maar `n rugbyseisoen het toe van Maart tot September gestrek, dalk tot in Oktober en toetsrugby was nie eens elke jaar ons voorland nie.

Om dit in perspektief te plaas, tussen 1996 en 2011 het die Bokke in 72 toetse in die Drienasiesreeks gespeel. Tussen 2012 en vanjaar het die Bokke reeds 27 toetse in die Rugbykampioenskap gespeel. Dan is daar elke jaar `n toer aan die einde van die jaar, drie en selfs vier toetse in Junie en elke vier jaar `n Wêreldbeketoernooi wat nog agt toetse oplewer.

Dis ‘n ooraanbod en dis hoekom daar net 2 000 tot 3 00 toeskouers by Curriebeker-wedstryde is, as dit nie op Saterdae (of selfs Vrydae) met Superrugby hoef mee te ding nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.