Curriebeker-onsekerheid skeel díe unies min

Peter Engledow (Foto Ipswich Star)

Peter Engledow (Foto Ipswich Star)

Die publiek is steeds in die duister oor die datums vir die voorgenome provinsiale reeks en bevestiging van die reeks se struktuur, maar voorlopige inligting daaroor is reeds aan die unies deurgegee.

Dit blyk dat van die unies wat nie by Superrugby betrokke is nie, reeds hard werk om slaggereed vir die reeks te wees.

Die nuwe provinsiale reeks skop na verwagting die naweek van 22 April af en soos Pale toe! vroeër berig het, kan van die wedstryde straks op ’n Sondag beslis word.

♦  Die Boland-rugbyunie berei voor asof hulle aan die Curriebeker se Premierliga gaan deelneem.

Só sê Jaco van Wyk, spanbestuurder van die Boland. “In die stadium is ons fokus egter op die nuwe provinsiale reeks.”

Die Curriebekerreeks sal seker in Junie afskop, ’n kompetisie wat tussen sewe spanne beslis sal word. Behalwe die Goue Leeus, Blou Bulle, Cheetahs, Griekwas, Sharks en die WP wat reeds van deelname aan die Premierliga verseker is, sal die sewende plek na verneem word deur of die Boland of die Pumas ingeneem word.

Dit lyk of die OP Kings nie oorweeg sal word nie, moontlik omdat hulle nie ʼn span volhoubaar in die veld sal kan stoot nie.

Hoewel Van Wyk toegee die onsekerheid rondom die Curriebeker-formaat is nie ideaal nie, sê hy “dit beïnvloed nie die span se voorbereiding nadelig nie. Ons berei steeds voor om in die Premierliga deel te neem,” het hy gesê.

♦  Brent Janse van Rensburg, breier van die Pumas, sê die onsekerheid oor sy span se deelname aan die Premierliga is nie ’n hindernis nie.

“Vir my is dit belangrik om ’n oplossinggedrewe kultuur te vestig. Ons fokus op die prosesse wat ons moet volg om te verseker dat ons so goed as moontlik vir die seisoen voorberei, om te  verseker dat ons alle uitdagings in die 2017-seisoen die hoof kan bied,” het Janse van Rensburg gesê.

Die Pumas sal opwarmwedstryde teen die Goue Leeus, die WP en die Sharks speel.

♦  Griekwas, wat klaarblyklik reeds verseker is van ’n plek in die Premierliga, het hulle oog op die kroon van die nuwe provinsiale reeks.

Peter Engledow, hoofafrigter van die Griekwas, sê die onsekerheid oor die formaat van die 2017-Curriebekerseisoen raak nie sy span nie. “Ons het voorlopige datums van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie ontvang en ons voorseisoen verloop klopdisselboom.”

Hulle het opwarmwedstryde teen ’n Vrystaat-vyftiental as voorwedstryd vir die Superrugby-kragmeting tussen die Cheetahs en die Sunwolves in Bloemfontein en op 27 Maart en op 31 Maart teen die Sharks. Hulle speel ook op 5 April teen die Junior Bokke in Kimberley.

♦   Rudy Joubert, afrigter van die Valke, sê sy span fokus tans op twee opwarmwedstryde wat hulle gedurende Maart teen die Goue Leeus en die Blou Bulle speel.

“Ons werk daaraan om die spelers se vaardigheidsontwikkeling en besluitneming op te skerp,” het Joubert gesê.

♦   Die Griffons het die afgelope week ’n oefenwedstryd teen hulle buurman, die Cheetahs, gespeel en sal ook op 25 Februarie teen die Sharks en op 31 Maart teen die Junior Bokke te staan kom. Hulle het ook moontlike wedstryde teen die Goue Leeus en ’n SA Polisiespan wat nog bevestig moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Smirre ·

Lees ek reg? Griffons speel dalk teen ‘n SA Polisiespan? Watse SA Polisiespan? Is daar nog enige polisiemanne wat rugby speel wat jonger as 40 jaar is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.