Curriebeker-opstelronde lewer aanskoulike rugby

Robert du Preez - WP-losskakel

Robert du Preez – WP-losskakel

Dit mag dalk nie op fynproewersvlak wees nie, maar die opstelronde van die Curriebekerreeks het die afgelope naweek volop aanskoulike rugby opgelewer wat die toeskouers nie teleurgestel het nie.

Tussen die uitblinkers tel die Westelike Provinsie se losskakel Robert du Preez, seun en naamgenoot van die oud-Springbok-skrumskakel; Anthony Volmink, vleuel van die Goue Leeus-vyftiental, die span se plaasvervanger-losskakel, Shaun Reynolds; en Benhard Janse van Rensburg, die Luiperds-vyftiental se losskakel.

Du Preez het op Piketberg `n generaalsrol in die WP se sege van 25-14 (rustyd 15-7) oor `n mededingende Boland gespeel, en 15 punte met `n drie, twee doelskoppe en twee strafdoele bygedra.

Volmink het drie van die Leeus se 11 drieë in die span se wegholoorwinning van 75-14 (35-7) oor die Valke in die Barnardstadion op Kemptonpark gedruk. Reynolds het 17 punte met `n drie en ses doelskoppe op die telbord geplaas.

Op Olënpark in Potchefstroom het Janse van Rensburg rigting aan die Luiperds se sege van 54-14 (28-7) gegee, en `n drie en vyf doelskoppe (15 punte) aangeteken.

In die ander wedstryde het die voorloper, Griekwas, die Pumas oortuigend 37-14 (20-0) op Griekwapark in Kimberley geklop; op Outeniekwapark in George moes die Vrystaat-vyftiental inhaal om die Suidwestelike Distrikte 24-16 (11-13) te klop; die Blou Bulle het Grens 45-26 in die Buffalostad-stadion in Oos-Londen geklop; en die Sharks-vyftiental het die Griffons 36-27in Welkom getroef.

Die puntemakers –

Griekwas 37 (20) – Drieë: Christiaan Meyer, AJ Coertzen (2), Ntabeni Dukisa, Mzwanele Zito. Doelskoppe: Clinton Swart (3). Strafdoele: Swart (2).

Pumas 14 (0): Drieë: Carel Greeff, Heinrich Steyl. Doelskoppe: Justin van Staden (2).

Boland 14 (7): Drieë: Christopher Bosch, Danwel Demas. Doelskoppe: Nico Scheepers (2).

WP 25 (15): Drieë: Robert du Preez, Chad Solomon, Johnny Kotze. Doelskoppe: Du Preez (2). Strafdoele: Du Preez (2).

Valke 14 (7) – Drieë: Barend Steyn, Christian Rust. Doelskoppe: Christo Coetzee, Warren Potgieter.

Goue Leeus 75 (35) – Drieë: Anthony Volmink (3),  Arnout Malherbe, Jacques Nel, JW Bell, Luvuyiso Lusaseni, Pieter Jansen, Selom Gavor (2), Shaun Reynolds. Doelskoppe: Jako van der Walt (4), Reynolds (6).

SWD 16 (13) – Drieë: Johan Steyn; Doelskoppe: Hansie Graaff. Strafdoele: Graaff (3).

Toyota Free State XV 24 (11) – Drieë: Tienie Burger, Mosolwa Mafuma. Doelskoppe: Sias Ebersohn. Strafdoele: Ebersohn (4).

Luiperds 54 (28) – Drieë: Benhard Janse van Rensburg, Gene Willemse, Jaco Hayward (2), Juan Language (2), Rowayne Beukman, Ryno Wepener. Doelskoppe: Janse van Rensburg (5), Schalk Hugo.

OP 14 (7) – Drieë: Juan Jonck, Tazz Fuzani. Doelskoppe: Garrick Mattheus (2).

Opgesomde punteleer –

Griekwas 56, WP 51, Boland 45, Goue Leeus 41, Pumas 41, Vrystaat 39, Blou Bulle 33, Griffons 30, Luiperds 30, Sharks 27, SWD 27, Grens 25, Valke 20, OP 12, Welwitschias 1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.