Curriebeker: Pumas spring goed weg op tuisveld

Die Pumas hét toe Sondagmiddag in Nelspruit hulle Curriebekerveldtog met ʼn oorwinning oor die Goue Leeus afgeskop.

Die telling was 43-36 en die Pumas het met die oorwinning en hulle ses drieë die volle vyf ligapunte verdien. Die Leeus, wat vyf keer gedruk het, is met twee bonuspunte Johannesburg toe.

Pirates se oorwinning was nie heeltemal ʼn verrassing nie. Die Pumas het in die afgelope Supersportreeks twee maal gedreig sonder om die Leeus te kan klop. Soos in daardie reeks moes die Leeus ook sonder hulle Superspelers klaarkom.

Dit lyk of die Pumas stadig maar seker hulle voete onder vanjaar se nuwe afrigter Brent Janse van Rensburg vind. Met die franchisespanne wat almal ʼn paar spelers verloor wat na Europa vertrek of in die afseisoen in Japan gaan speel, kan hulle die sogenaamde grotes sommer baie besig hou oor die dubbelronde van die Curriebekerreeks.

Sondag het die wedstryd wipplank gery, soos die geval was in Kimberley waar die Blou Bulle en Griekwas mekaar deurgaans opgedreun het.

Die Leeus het na ʼn middelmatige, foutbelaaide eerste helfte wat hulle op 17-24 laat water drink het, na 60 minute weer die soveelste maal die voortou geneem toe  Ashlon Davids gaan druk en Shaun Reynolds verdoel het terwyl die Pumas se vleuel Jerome Pretorius met ʼn geel kaart langs die veld gesit het.

Op 36-31 was die slag vir die Leeus egter ver van gelewer. Kwalik vier minute later het die Pumas teruggeslaan toe die senter en kaptein Hennie Skorbinski gaan druk het en Justin van Staden verdoel het.

Met die telling op 38-36 het die Pumas dit drie minute later met ʼn drie deur Gerhard Smith ingevryf om met 43-36 voor te loop. Toe was dit vasbyt vir die tuisspan, veral oor die laaste 12 minute of so, om die oorwinning te beklink.

Puntemakers:

Pumas (24) 43: Drieë: Gerrit Smith 2, Nardus van der Walt, Francois Kleinhans, Justin van Staden, Hennie Skorbinski. Doelskoppe: Van Staden 5. Strafdoel: Van Staden.
Leeus (17) 36: Drieë: Stokkies Hanekom, Shaun Reynolds, Bradley Thain, Aphiwe Dyantyi, Ashlon Davids. Doelskoppe: Reynolds 3. Strafdoel: Reynolds.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.