Curriebeker: Pumas trek Cheetahs se naels

Foto: @TheCurrieCup/Twitter

Die Pumas-afrigter, Jimmy Stonehouse, is ʼn man wat sy huiswerk deeglik doen. Van skoolvlak af tot op provinsiale vlak waar hy jare lank al met beperkte spelerstalent wondere verrig.

Dis nie altyd aanskoulik nie, maar die spelpatroon is uiters doeltreffend, veral die voorspelers se rolmale.

Saterdag in Mbombela het hy die Vrystaat-Cheetahs uitoorlê en die besoekers se Curriebekervlam geblus. Hy het boonop die agterdeur vir die Pumas oopgehou om tot vanjaar se halfeindrondes deur te dring deur die kragmeting met 28-19 te wen nadat hulle rustyd met 18-7 voor was.

Die Pumas se taktiek was baie geslaagd. Maak die spel stadig, wurg die besoekers, dwing die Cheetahs tot foute (19 strafskoppe) en keer hulle om hul normale vinnige spel te speel.

Die Cheetahs het ʼn baie duur prys betaal, want hulle is nou uit vanjaar se CB-wedloop.

Hulle het ʼn allemintige 19 strafskoppe afgestaan terwyl die skeidsregter, Aimee Barrett-Theron, drie geel kaarte (Aranos Coetzee, Duncan Saal en Andila Ntsila) aan die Cheetahs uitgedeel het.

Die spel kon nie vloei nie en die Pumas het dit reggekry om dit nog stadiger te maak, veral met talle spelers wat vir beserings behandel is.

Die besoekers het in die strik getrap en het ook nie ʼn Plan B gehad nie.

Hulle kon nie by die stadige tempo aanpas nie en hul voorspelers kon ook nie genoeg besit afdwing nie. Hul dissipline het ook erg gelol en was gefrustreerd.

Dit was nie ʼn aanskoulike wedstryd nie, want daar was te veel hanteerfoute en ʼn gebrek aan besluitneming, veral aan die Cheetahs se kant.

Maar lig die hoede vir die Pumas wat volgens hul sterkpunte gespeel het en gedy het.

Met die losskakel Eddie Fouche, die skrumskakel Ginter Smuts en die kwiksilwer heelagter Devon Williams wat die bal voor die voorspelers gehou het, het ysters soos Simon Westraad, Pieter Jansen van Vuren en Willie Engelbrecht voorlangs die vuur behoorlik gestook.

Punte: Pumas 28 (18): Drieë: Simon Westraad (2), strafdrie (7 punte). Doelskop: Eddie Fouché. Strafdoele: Fouché (3).

Vrystaat-Cheetahs 19 (7): Drieë: Victor Sekekete, Andisa Ntsila, Clayton Blommetjies. Doelskoppe: Ruan Pienaar (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sobymykoolkop ·

En Hawies is en was nog nooit ń goeie afrigter vir ” groot ” spanne nie, hoogstens varsity afrigter.

Kobus ·

Spel stadiger maak? Lees ek negatiewe sportmanskap? Is skeidsregters nie te vinnig met kaarte nie? Ek vra want ek is nie n kenner nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.