Curriebeker: Puntelys gee nie die hele prentjie nie

 

currie cup logo 2016.jpgOmdat die onderste drie spanne in die Curriebekerreeks feitlik gegewe oorwinnings vir hulle teenstanders beteken, is die huidige puntelys nie ʼn goeie aanduiding van wie in die binnebaan vir die uitspeelwedstryde is nie.

Ses spanne is nog in die wedloop: vyf unies wie se spanne in die Superreeks speel (die OP het uitgesak) en die verrassing, Griekwas.

Miskien moet die spanne, met wedstryde gespeel en hulle ligapunte en oorblywende teenstanders, hier weergee word sodat dit makliker is om die moontlikhede te kan ontleed..

Elke span speel agt wedstryde:

Sharks              5 20  (Vrystaat tuis, Leeus weg, OP Kings tuis)
Vrystaat          4 19  (Sharks weg, Leeus tuis, Pumas weg, Griekwas tuis)
Blou Bulle      5 15  (Pumas weg, Griekwas tuis, Boland weg)
Griekwas        4 14  (Boland tuis, Blou Bulle weg, WP tuis, Vrystaat weg)
Goue Leeus   4 12  (WP tuis, Vrystaat weg, OP Kings weg, Sharks tuis)
WP                     4 12  (Leeus weg, Pumas tuis, Griekwas weg, Boland tuis)
Boland             5   9  (Griekwas weg, Blou Bulle tuis, WP weg)
Pumas              4   5  (Blou Bulle tuis, WP weg, Vrystaat tuis, OP Kings weg)
OP Kings        5   1  (Sharks weg, Leeus tuis, Pumas tuis)

♦ Die Goue Leeus, tans vyfde op die punteleer en oënskynlik goed geplaas op net drie punte agter die Blou Bulle terwyl hulle ʼn wedstryd minder gespeel het, is ʼn goeie voorbeeld van ʼn span wat volgens die puntelys sterk staan maar half in die knyp is.

Die Blou Bulle, ondanks die wedstryd meer gespeel, is daar beter aan toe. Hulle is reeds klaar met die vier grotes – die Leeus, die Vrystaat Cheetahs, die Sharks en die WP. Hulle het nog net drie wedstryde, teen die Pumas, Griekwas en Boland wat voorlê. Pasop vir die Kimberliete, al is hulle weg nie altyd so gevaarlik soos op hulle eie harde veld nie.

Die Leeus moet egter nog teen die WP (Saterdagaand tuis), die Vrystaat (weg) en die Sharks (tuis) speel, met net die OP wat as ʼn feitlike gegewe beskou kan word.

♦ Die Sharks is tans boaan die puntelys, ʼn enkele punt voor die Vrystaat Cheetahs maar met ʼn wedstryd meer gespeel. Hulle speel die naweek in Durban teen die Vrystaat in ʼn wedstryd wat kan bepaal wie boaan die puntelys sal eindig, en het ook die Leeus op Ellispark en die Kings in Durban om teen te speel.

♦  Benewens die Sharks speel die Vrystaat die daaropvolgende naweek tuis teen die Leeus, weg teen die Pumas en dan weer in Bloemfontein teen Griekwas.

♦  En dan is daar die Westelike Provinsie, tot die afgelope naweek ʼn yslike teleurstelling. Toe gaan staan en klop hulle die onoorwonne Sharks op Nuweland en is skielik deeglik in die prentjie.

Benewens Vrydagaand se wedstryd teen die Leeus op Ellispark is daar nog die moeilike hekkie in Kimberley teen Griekwas waaroor hulle moet kom.

Hulle ander twee wedstryde is teen die Pumas en die Boland, albei op Nuweland.

♦  ʼn Mens praat so oor die sterktes, maar Griekwas kan Donderdagaand in die derde plek inskuif. Soos verlede week speel hulle net ʼn weekwedstryd en wéér nie oor die naweek nie. Hulle speel Donderdagaand in Kimberley teen die Boland.

Boland het vanjaar ná ses jaar na die Premierliga teruggekeer en goeie rekenskap van hulself gegee maar is tans kwaai uitgedun weens baie beserings en op hulle tuisveld is vyf punte vir Griekwas ʼn redelike voorspelling.

Vir Kimberley se  ondersteuners is dit egter heeltemal te vroeg om al planne te maak om die uitspeelwedstryde by te woon. Op hulle bepalingslys is daar ná die Boland nog wedstryde teen die Bulle op Loftus, die WP op Griekwapark en die Vrystaat op die Vrystaatstadion.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.