Curriebeker: pylvak sal kragte tap

Rhyno Smith in aksie vir die NWU Pukke. (Foto: Varsity Cup)

Rhyno Smith in aksie vir die NWU Pukke. (Foto: Varsity Cup)

Geeneen van die agt SA nie-franchise-bonde in die opstellende ronde van die Curriebekerreeks kan op hierdie stadium buite rekening gelaat word nie en die stryd in die pylvak gaan elke greintjie krag uit die deelnemers tap.

Griekwas lyk ondanks sy slae Saterdag teen die Goue Leeus (37-52) betreklik seker van `n plek in die uitsoekreeks, wat oor slegs drie vakatures beskik aangesien die ses franchise-bonde se deelname verskans is. Hy spog met agt seges in tien wedstryde.

Die Pumas (31 punte, ses seges in nege wedstryde) en die Boland (30 punte, ses seges in agt wedstryde) is tans die gunstelinge om die ander twee plekke te vul, maar geeneen van die ander aanspraakmakers is heeltemal uitgeskakel nie.

Hulle sal egter moet bly wen – en dit sal die uiterste kraginspanning verg.

Almal het nog vyf-ses wedstryde oor en die Griffons (25), die Luiperds (23), SWD (20), Grens (20) en die Valke (18) het almal nog `n kans. Dit sal hulle natuurlik help as van die voorlopers struikel.

In die naweek se ander wedstryde het die Westelike Provinsie die Luiperds 43-34 geklop; die Suidwestelike Distrikte het Grens 39-22 geklop; die Valke het die Welwitschias 66-5 geklop; en die Blou Bulle het teruggeveg om die Sharks-vyftiental 22-18 te klop nadat die Pretorianers rustyd 7-11 agter was.

Rhyno Smith, die Luiperds-heelagter, was die naweek se voorste puntemaker. Hy het 24 punte met twee drieë, vier doelskoppe, `n straf- en `n skepdoel behaal.

Karlo Aspeling, die Valke se losskakel, se drie en sewe doelskoppe was 19 punte werd; Marnitz Boshoff, die Goue Leeus se losskakel, se sewe doelskoppe en `n strafdoel 17; en André Swarts, die Griekwa-losskakel, se drie doelskoppe en drie strafdoele 15.

Die Goue Leeus se senter Stokkies Hanekom (teen Griekwas) en die Valke-agsteman, Reg Muller (teen die Welwitschias), het elk `n driekuns behaal.

Die puntemakers –

Goue Leeus-vyftiental 52 (21) – Drieë: Stokkies Hanekom (3), Shaun Reynolds, Lourens Erasmus, JW Bell (2). Doelskoppe: Marnitz Boshoff (7). Strafdoel: Boshoff.

Griekwas 37 (21) – Drieë: Alshaun Bock (2), AJ Koertzen, Stephan Kotze. Doelskoppe: Andre Swarts (3). Strafdoele: Swarts (3).

Westelike Provinsie 43 (31): Drieë: Grant Hermanus (2), Beyers de Villiers, Freddie Muller, Jean Kleyn, Khanyo Ngcukana. Doelskoppe: Scott van Breda (5). Strafdoel: Van Breda.
Luiperds 34 (13): Drieë: Rhyno Smith (2), Jaco Hayward, Marno Redelinghuys. Doelskoppe: Rhyno Smith (4). Strafdoel: Smith. Skepdoel: Smith.

SWD 39 (10) – Drieë: Johannes Stander, Andries van der Walt, Mark Pretorius, Christo du Plessis, Daniel Roberts. Doelskoppe: Thomas Kean (4). Strafdoele: Kean (2).

Grens 22 (5) – Drieë: Masixole Bande, Logan Basson, Mihlali Mpafi, Michael Makasa. Doelskop: Basson.

Valke 66 (35) – Drieë: Reg Muller (3), Ettiene Taljaard, Carlyle Hendricks, Andries Truter (2), Andrew van Wyk, Marlyn Williams, Karlo Aspeling. Doelskoppe: Karlo Aspeling (7), Andries Truter.

Welwitschias 5 (5) – Drie: Lesley Klim.

Blou Bulle 22 (7) – Drieë: Marquit September (2), Kefentse Mahlo (2). Doelskop: Kurt Webster.

Sharks XV 18 (11) – Drieë: Morné Joubert, Sibusiso Sithole. Doelskop: Duncan Campbell. Strafdoele: Marcel Coetzee (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.