Curriebeker-reeks: Hoe lank gaan unies wag om hul spanne te laai?

Argieffoto (Foto: Vlad Vasnetsov/Pixabay)

Dit gaan baie interessant wees om te sien hoe, en of, die sogenaamde vier grotes in Suid-Afrikaanse rugby voortaan hul spelers in die Curriebekerreeks gaan aanwend.

Die reeks het byna die halfpadmerk bereik met die Vrystaat-Cheetahs wat Saterdag in Kaapstad die voortou by die Pumas oorgeneem het nadat hulle die Westelike Provinsie met 26-17 geklop het.

Volgens alle aanduidings behoort die Pumas Sondagmiddag weer by die Cheetahs as gesamentlike voorlopers aan te sluit wanneer hulle in Welkom teen die Griffons speel.

Nadat die Bulle Vrydag in Durban ʼn oorwinning van 24-20 oor die Haaie behaal het, het hulle tot sesde op die puntelys opgeskuif, maar is hulle 12 punte agter die Cheetahs.

Jake White, die Ligbloues se afrigter, het die meeste van sy beste spelers wat in die Verenigde Rugbykampioenskap speel, verlede week teen Griekwas gekies om die Bulle op die wenpad in die Curiebekerreeks te laat kom.

Die Bulle het met 40-3 gewen, merendeels omdat daar ʼn groot gaping tussen die twee reekse is.

Maar dit het die Bulle se Curriebekerspan aangespoor om ook hul kanse aan te gryp deur die Haaie Vrydagmiddag in Durban te klop.

Dit het die kaarte deurmekaar geskommel.

Hoe lyk die pad vorentoe?

Die Pumas, Griekwas en Griffons, en nou ook die Cheetahs, word nie deur die VRK-reeks geraak nie, maar die WP, Haaie, Bulle en Leeus wel.

Die Leeus, wat met ʼn beter punteverskil bo die Bulle in die Curriebeker-reeks is, kan Sondagmiddag hul voorsprong vergroot wanneer hulle teen Griekwas speel.

Die Lions handel boonop hul verpligtinge in die VRK-reeks komende Saterdag op Loftus Versfeld af wanneer hulle teen Zebre speel.

Dit sal die Leeu-keurders in staat stel om voortaan ook van hul VRK-spelers in te span om te probeer kwalifiseer vir die topvier in die Curriebekerreeks.

Die WP, Haaie en Bulle sal ’n ruk langer moet wag om hul spanne met VRK-spelers aan te vul te word omdat hul VRK-spanne (Stormers, Sharks en Bulls) die uitspeelrondes van die VRK-reeks sal haal.

Maar hoe lank gaan hulle daarna wag voordat al hul aandag na die Curriebeker-reeks oorskuif?

Curriebeker-puntestand:

Wedstryde gespeelGewenVerloorGelykopPunteverskilLigapunte
Vrystaat-Cheetahs65109425
Pumas541010320
Haaie63301215
WP6330215
Leeus5230-3313
Bulle6240-4413
Griekwas5230-4810
Griffons5140-866

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.