Curriebeker-reeks: Jake White se Blou Bul-doepa werk

Morné Steyn (argieffoto) (Foto: GB Jordaan)

Jake White, die Bulls en nou ook die Bulle se afrigter, weet hoe om met spelers se koppe te smokkel.

Nadat die Bulle segeloos ná drie wedstryde in die Curriebekerreeks was en ook die eerste keer ooit deur die Griffons verslaan is, is die afrigter Edgar Marutlulle redelik omstrede vervang met White wat besluit het om die toutjies te trek.

Hy verlede naweek feitlik sy hele span wat in die Verenigde Rugbykampioenskap speel, teen Griekwas in die Curriebekerreeks ingespan en maklik met 40-3 gewen.

Vrydag op Kingspark in Durban moes hy weer op sy Curriebekerspelers terugval toe die Bulle teen die Haaie gespeel het.

Die Bulle, wat ’n mengsel van jeug en ervaring was, het met 24-20 gewen met jonger spelers soos die vleuel Sibongile Novuka, Zak Burger, Jan-Hendrik Wessels en Janko Swanepoel wat uitgemunt het.

Novuka, wat vir die Grens se Bulldogs gespeel het, het ʼn driekuns aan drieë behaal. Hy is groot, vinnig en sterk (1,92 m en 97 kg) en ken net een pad doellyn toe.

Hy gedy in sy nuwe omgewing en kan ʼn lang paadjie stap.

Die ander jong spelers het ook nuutgevonde selfvertroue, hulle is met nuwe verantwoordelikhede opgesaal en hulle het hul kanse in die wind aangegryp.

Saam met ervare koelkoppe soos Lionel Mapoe, Morné Steyn en Nizaam Carr, was daar baie beter samespel, passie en speldissipline.

Ja, een swaeltjie maak nie ’n somer nie en dit gaan nie baie maklik wees om in die Curriebeker- en VRK-reeks op dieselfde naweek te bly wen nie, maar die bal is nou in die Curriebekerspelers se speekwoordelike baan.

Hier is julle kans, gryp dit aan … wat hulle teen die Haaie gedoen het.

Punte: Bulle 24 (19): Drieë: Sibongile Novuka (3), Jan-Hendrik Wessels. Doelskoppe: Morné Steyn (2).

Haaie 20 (3): Drieë: Phikolomzi Sobahle, Zee Mkhabela. Doelskoppe: Fred Zeilinga, Lionel Cronjé. Strafdoele: Zeilinga (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Wys weereens hoe belangrik besluite en keuses oor bestuur en afrigting is.

kragaap ·

Wys jou hoe belangrik dit is om die REGTE afrigter ipv die KORREKTE afrigter aan te stel. Gaan maar vir spankeuses ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.