Curriebeker se ‘kwalifiserende’ ronde kry nuwe beker

SA Rugby logoDie naamlose Curriebekerreeks het Donderdag met die 14 SA rugbyunies plus die Welwitchias afgeskop in wat gelukkig nie meer die Curriebekerreeks genoem sal word nie, maar die reeks om die Provinsiale Beker.

Griekwas het Donderdagaand tuis teen die Griffons gespeel met ses wedstryde wat Vrydag en Saterdag afgehandel word. Griekwas het 34-14 gewen.

Die woord ‘kwalifiserende’ het duidelik nie lekker op die oor by Saru geval nie, maar dis presies wat die reeks is om te bepaal watter drie spanne van bonde wat nie Superrugby speel nie, na die Premierliga van die Curriebekerreeks deurdring.

Die ses Super-franchise’e kwalifiseer ongeag waar hulle in die reeks om die Provinsiale Beker eindig.

Dit is seker goed dat die benaming Curriebeker nie in die oninteressante kwalifiserende reeks bygesleep word nie. Van die voorste bonde, soos die Goue Leeus, die Sharks en die Vrystaat Cheetahs beskou die reeks as nie-verteenwoordigend nie en stoot hul spanne bloot as vyftientalle op die veld, t.w. Goue Leeus XV, Toyota Vrystaat XV en Sharks XV. Van dié spanne sal ook nie hul amptelike truie speel nie.

Die Leeus en die Sharks speel onderskeidelik by vyf klubs en net drie keer op Ellispark, en in gebiede waar rugby nog nie ernstig gespeel word nie.

Die Provinsiale Bekerreeks, eintlik niks meer as ʼn afgewaterde vervanging van die Vodacomreeks nie, kry eintlik eers lewe wanneer die drie kwalifiserende nie-franchise’e se spanne saam met die ses verteenwoordigers in die Superreeks begin arm druk om die Curriebeker.

Teen daardie tyd sal die Superreeks, met uitsondering van die eindstryd, afgehandel wees en sal die Superspanne (die Stormers, Lions, Sharks, Bulls, Cheetahs en Kings) sekerlik van hulle bestes begin inspan.

Intussen is daar vir die fanchise-unies niks op die spel nie en kan hulle waar nodig die reeks as Curriebeker-‘proewe’, en selfs as voorbereiding vir die junior kompetisies, gebruik.

Vir die ander unies, en veral vir spanne soos Griekwas, die Pumas, die Luiperds en Boland Kavaliers wat veel sterker lyk as verlede jaar, is daar egter die kans om na die regte Curriebekerreeks deur te dring. Dié begin op 6 Augustus.

Die naweek se oorblywende wedstryde:
Vrydag
14:00: Goue Leeus XV vs Grens
16:15: WP vs Blou Bulle
19:00: Sharks XV vs Boland Kavaliers; Pumas vs Valke

Saterdag
14:30: Vrystaat XV vs Welwitchias
16:30: OP  Kings vs SWD Arende.

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.