Curriebeker: Sharks knoop Cheetahs se stert

(Argieffoto) Yaw Penxe (regs) en Rosko Specman tydens ʼn vorige wedstryd by die Jonsons Kings Park-stadion in Durban (6 November 2020) (Foto: Anesh Debiky/AFP)

Hulle sê om ʼn volbloedresiesperd op volle vaart te sien, is ʼn belewenis, maar om op die rugbyveld vir Rosko Specman in aksie te sien, is net so lekker.

Ongelukkig vir Specman is die Vrystaat-Cheetahs Saterdagmiddag met 47-30 deur die Sharks in Bloemfontein in ʼn Curriebekerwedstryd getroef nadat hulle rustyd met 24-11 voor was.

Specman het die koppe laat draai toe hy sy eerste drie gedruk het nadat hy ʼn steekskoppie opgepik het.

Hy moes verby ʼn kameraman swenk en het oor een van die plastiek-veldbeskermers gespring en op volle vaart in die pawiljoen se tonnel verdwyn. Dis sulke karakters wat die toeskouers weer na wedstryde sal teruglok.

Vir sy tweede drie het hy byna 50 meter genael, ʼn hele paar verdedigers met sy swenke en vaartversnelling geklop en afgerond.

Waar Specman vir die Vrystaat uitgeblink het, het Curwin Bosch, wat 22 punte aangeteken het, sy talente weer onderstreep. Ja, daar is leemtes in Bosch se mondering, maar wanneer hy die dag kook, is daar min spanne wat hom in toom kan hou, veral sy taktiese skopwerk.

Die senter Werner Kok was ook soos ʼn opgewende veer en die skrumskakel Grant Williams propvol planne.

Die Cheetahs, wat Woensdag teen die Westelike Provinsie gespeel en gewen het, se stoom het opgeraak, want dis baie moeilik om binne drie dae te herstel. Ook het hul dissipline hulle in die steek gelaat het die geel kaart aan Ruan Pienaar het hul kragte getap.

Die Sharks kan terugkyk na een van hul beste vertonings vanjaar.

Hulle gee die pas op die puntelys aan en dis nou in hul eie hande of hulle kan volhou.

Punte:

Sharks 47 (24) Drieë: Werner Kok, Grant Williams (2), Anthony Volmink, Kerron van Vuuren. Doelskoppe: Curwin Bosch (5). Strafdoele: Bosch (4)

Vrystaat-Cheetahs 30 (11) Drieë: Rosko Specman (2), Brandon Thomson, Duncan Saal. Doelskoppe: Ruan Pienaar, Reinardt Fortuin. Strafdoele: Brandon Thomson, Pienaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.