Curriebeker: só staan sake

Die Westelike Provinsie tree ná sy skokneerlaag verlede week teen die Pumas weer sterk na vore in die Curriebeker-reeks, maar dis nog geen uitgemaakte saak dat hulle vir ʼn halfeindronde tuis sal kwalifiseer nie.

Die WP het Griekwas Saterdag op Nuweland met 55-27 afgeransel om die derde plek op die puntelys agter die Sharks en Cheetahs te beklee.

Die Sharks het op ʼn sopnat Kingspark die Blou Bulle se aspirasies feitlik gekelder ná ʼn sege van 18-5 en Vrydagaand het die Cheetahs weer die deur oopgestamp toe hulle die Pumas met 36-33 geklop het. Die Lions het ʼn loslootjie gehad.

Hoe lyk die pad vorentoe?

Sharks (43 punte): Hulle is reeds verseker van ʼn tuishalfeindstryd. Hulle moet nog twee keer tuis speel en as hulle voortbou, kan ek nie insien dat die Lions of WP hulle sal klop nie. Ja, hulle moet nóg twee spelers, Sbu Nkosi en Louis Schreuder, benewens Beast Mtawarira, Chiliboy Ralepelle, Jean-Luc en Dan du Preez vir die volgende twee weke aan die Springbokspan afstaan, maar die afrigter, Robert du Preez, het genoeg diepte, ervaring (Odwa Ndungane, Keegan Daniel en Michael Claassens) en spelskeppers om voor te bly.

Cheetahs (30 punte): Dit wil gedoen wees om met ʼn amperse C-span steeds hul man te bly staan. Hulle moet nog weg teen Griekwas en die Lions speel en tuis teen die Blou Bulle. As hulle op die vertoning teen die Pumas voortbou, kan hulle, teen alle verwagtinge in omdat hul beste span in die Pro-14reeks speel, tweede eindig.

WP (27 punte): Drie wegwedstryde wag teen Bulle, Lions en Sharks. Hulle behoort minstens een te wen, maar kan dan weg in die halfeindronde speel.

Lions (25 punte): Een wegwedstryd teen die Sharks en twee tuiswedstryde teen die WP en Cheetahs wag op hulle. Swys de Bruin bou vir die toekoms met jong ervare spelers. Hulle behoort derde of vierde te eindig.

Pumas (24 punte): Een tuiswedstryd teen Griekwas en dan weg teen die Bulle. Hulle behoort Griekwas te klop, maar dit is straks te min, te laat. ʼn Vyfde plek wink.

Blou Bulle (20 punte): Hou hulle maar dop, want hulle kan steeds die kaarte deurmekaar krap. Tuis teen die WP en Lions en weg teen die Cheetahs. Hulle kan al drie wen en kan dan vierde eindig.

Griekwas (16 punte): Tuis teen die Cheetahs en weg teen die Pumas. Nog ʼn jaar van sparteling om kop bo water te hou, veral omdat hulle diepte weens beserings tot die uiterste beproef word. Hulle sal laaste eindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anton Kld ·

Pieter ek kan maar net dink die Bulle gaan die Leeus in ‘n tuiswedstryd klop omdat die Leeus nie daar gaan wees nie, maar ongelukkig gaan dit geen ligapunte vir hulle beteken nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.