Curriebeker toets SA diepte tot op die been

Die Curriebekerreeks sal in die eerskomende klompie dae die diepte van Suid-Afrikaanse rugby (gewaand of werklik) tot op die been toets.

Daarmee saam sal die afrigters moet rekenskap gee van die mate waarin hulle die nuwer wetenskap van spelersbestuur en -wisseling onder die knie het.

Dit spruit daaruit dat verskeie spanne drie wedstryde binne die bestek van ʼn week sal moet speel.

Wydlopende verandering aan die meeste spanne weerspieël die erns waarmee die taak aangepak word.

Die eingste span wat konserwatief gekies het, is die Sharks wat Vrydag op Kingspark teen Griekwas te staan kom.

Die Diamantvelders het nog nie vanjaar ʼn wedstryd in die reeks gewen nie, en dit sal verbaas as hulle dit in Durban regkry. Dit wil egter nie sê dat die besoekers nie met die grootskaalse herskikking van hul span dalk juis die wenkombinasie raakgevat het nie.

Ná sy nederlaag teen die Vrystaat kan die Westelike Provinsie nie bekostig om teen die Pumas op Nuweland, Kaapstad, te verloor nie. Die Laevelders is egter geen katjie om sonder handskoene aan te pak nie.

Die Transjukskei-derby tussen die Blou Bulle (tans derde) en die Lions (tweede) Saterdag op Loftus Versfeld, Pretoria, lyk of dit die taaiste kragmeting van die naweek sal wees.

Die besoekers wek nie die indruk dat hulle te veel omvergewerp is deurdat hul topspelers nog by die Superrugbyreeks betrokke is nie.

Die afskoptye –

Vrydag

19:00 Sharks teen Griekwas, Kingspark, Durban

Saterdag

13:00 WP teen Pumas, Nuweland, Kaapstad

19:00 Blou Bulle teen Goue Leeus, Loftus Versfeld, Pretoria

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.