Curriebeker-volpunte vir Goue Leeus, Blou Bulle

Shaun Reynolds druk een van sy twee driee teen die Goue Leeys teen die Vrystaat. (Foto: GB Jordaan)

Sowel die Goue Leeus as die Blou Bulle het Saterdag volpunte in die Curriebeker-reeks verdien, en is ná die afgelope ronde onderskeidelik eerste en tweede op die punteleer.

Die Westelike Provinsie, wat nie dié naweek in aksie was nie, en die Sharks het egter elkeen ʼn wedstryd minder gespeel.

Soos te wagte was, het die Leeus die Vrystaat op Ellispark oortuigend geklop. Die telling was rustyd al 33-0 en het op die ou end op 47-14 te staan gekom.

Die Leeus-losskakel, Shaun Reynolds, se twee drieë en ses doelskoppe was 22 punte vir sy span werd, en het hom die speler van die wedstryd-toekenning besorg.

Die wenspan het die balbesit geheel en al oorheers.

♦ In Kimberley het die Blou Bulle vir Griekwas met 45-40 verslaan, nadat die rustydtelling 28-21 in hul guns was.

Hulle het sewe drieë teen vyf gedruk, sodat die Poubloues twee bonuspunte uit die kragmeting verdien het.

Swak dissipline (insluitend twee geel kaarte) het gekeer dat die besoekers verder kon wen.

Eerste Liga

♦ Die Luiperds is die onoorwonne voorloper in die Curriebeker- Eerste Liga nadat die Potchefstroomse span die Oostelike Provinsie in KwaZakhele met 28-21 na die kroon gesteek het.

♦ Op Bredasdorp het Grens vir die enigste verrassing van die naweek gesorg deur Boland met 24-17 te klop.

Die puntemakers –

Goue Leeus 47 (33) – Drieë: Sylvain Mahuza (2), Shaun Reynolds (2), Marvin Orie, Howard Mnisi, Hacjivah Dayimani. Doelskoppe: Shaun Reynolds (6).

Vrystaat 14 (0) – Drieë: Louis Fouché, Rudy Paige. Doelskoppe: Louis Fouché (2).

Griekwas 40 (21) – Drieë: André Swarts (2), Nicolaas Oosthuizen, Eital Bredenkamp, AJ Coertzen, strafdrie. Doelskoppe: George Whitehead (4).

Blou Bulle 45 (28) – Drieë: Franco Naudé (2), André Warner, Jaco Visagie, Edgar Marutlulle, Jano Venter, Ivan van Zyl. Doelskoppe: Manie Libbok (5).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gert Greyling ·

Nie geweet Shaun Reynolds het teen die Leeus gespeel nie, julle maak baie sulke foute, moes nou die week na n ander webtuiste gaan om te sien teen wie het die luiperds gespeel, in Engels, attention to detail

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.