Curriebeker: Vrystaat Cheetahs staan weer sterk ná sege

Om die Westelike Provinsie te klop, is een ding; om dieselfde met die Vrystaat Cheetahs reg te kry, is ʼn ander saak.

Dít het die Pumas tot hulle skade uitgevind toe hulle Vrydagaand in die Vrystaatstadion met 33-32 deur die Vrystaat Cheetahs geklop is. Dit was die tuisspan se eerste oorwinning sedert die Cheetahs se Pro14-span in die nuwe Keltiese liga begin speel het.

Met hierdie oorwinning, wat vyf drieë teenoor die Pumas se vier ingesluit het, het die Vrystaat weer na die tweede plek op die puntelys opgeskuif nadat hulle die afgelope paar weke elke keer deur laer spanne verbygesteek is.

Die Pumas is verras deur ʼn span wat met elke bal probeer hardloop het en dit ʼn hele paar keer uitstekend reggekry het.

Die Cheetahs het die meeste besit gehad, maar daar was te veel ongedwonge foute wat hulle ritme versteur het. Hulle skrumwerk het in die eerste helfte gelol, en hulle het elders ook te veel strafskoppe afgestaan om werklik ʼn houvas op die wedstryd te kry.

As daar ʼn faset is waaroor die wenspan en hulle afrigters baie tevrede sal wees, is dit hulle verbete verdediging, ʼn ou-ou swakpunt van Vrystaatse spanne. Daar sal wel aandag gegee moet word aan die drieë wat die Pumas aangeteken het nadat die bal wyd gespeel is, maar in die middelveld en om die afbreekpunte was daar nie deurkomkans vir die pienktrui-besoekers nie.

Die Pumas, wat minder met die bal gehardloop het en duidelik persentasie-rugby wou speel, is met inklimspel vasgevat en hulle rolmale van lynstane af is redelik goed afgeweer.

♦  ʼn Kenmerk van die wedstryd was die Vrystaters se veggees. Hulle was rustyd met 12-15 agter en dit het 12-25 geword ná ʼn drie van Willie Engelbrecht en Kobus Marais wat verdoel en ook met ʼn strafdoel geslaag het.

Vier minute later het die Cheetahs se woelige plaasvervanger-haker Reinach Venter gaan druk. Robbie Petzer het verdoel en drie minute later soos ʼn wafferse flank die bal by ʼn losskrum opgetel en deurgebars vir sy eerste drie. Hy het verdoel (26-25).

Die Pumas het weer die voortou geneem terwyl die Cheetahs gebondel het en Justin van Staden het gaan druk. Marais het verdoel en dit ná 66 minute 32-26 vir die Laevelders gemaak.

Met vyf minute oor het Petzer die weifeling in die Pumas se agterlyn gesien, langs die pale oorgestrek val en verdoel.

Puntemakers –
Vrystaat Cheetahs (12) 33:
Drieë: Zee Mkhabela, Cecil Africa, Reinach Venter, Robbie Petzer 2. Doelskoppe: Petzer 4.
Pumas (15) 32: Drieë: Frankie Herne, Jerome Pretorius, Willie Engelbrecht, Justin van Staden. Doelskoppe: Kobus Marais 3. Strafdoele: Marais 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.