Curriebeker: WP klap deur in Pumas se gesig toe

Foto: Hansie Liinde.

Die WP het Saterdagmiddag op Kingspark in Durban by die agterdeur ingeglip om die halfeindronde te haal toe hy die Haaie met 35-24 geklop het.

Die WP het alles in die stryd gewerp, want afgesien van ’n oorwinning, moes die Streeptruie ook met ’n bonuspunt wen om die deur in die Pumas se gesig toe te klap.

Die WP het op die ou einde vyf drieë gedruk om sy plek te verseël en het vierde op 35 punte geëindig.

Die Bulle, nadat hulle die Cheetahs geklop het, is eerste met 49 punte, gevolg deur die Haaie (40), Griekwas en WP (albei 35), Pumas (34), Cheetahs (28) en Leeus (24).

Griekwas het bo die WP geëindig omdat hul punteverskil (19) beter as dié van die WP (6) is.

Die WP was veral in die eerste helfte gevaarlik en het soms vonkelrugby gespeel, net soos in die span se goue jare. Hoekom hulle dit nie meer gereeld in vanjaar se reeks gedoen het nie, bly ’n ope vraag.

Daarteenoor was die Haaie nie baie avontuurlustig nie en het dit soms gelyk asof hulle reeds aan Saterdag se halfeindstryd teen Griekwas gedink het. Dit was mos in die sakkie.

Die groot vraag is of die WP die Bulle op Loftus kan stuit.

Te oordeel na albei spanne se vertonings, bestendigheid en hul spelpatrone dié seisoen, asook hul diepte op die plaasvervangersbank, behoort die Bulle nie te veel moeite te ondervind nie.

Maar hulle sal dit nie kan bekostig om op hul louere te rus nie, want die Streeptruie het dalk op die regte tyd vlamgevat.

Onthou gerus ook wat in Italië teen Benetton gebeur het toe die Bulle teen alle verwagtinge in slae gekry het.

In die ander halfeind behoort die Haaie ook te veel skietgoed vir Griekwas te hê, maar hulle kan hulle vasloop teen rotsvaste verdediging en ’n span wat nie skroom om die vuilwerk te doen nie.

Die Haaie sal ook nie net op die skopskoene van Curwin Bosch en Lionel Cronje kan staatmaak nie.

Punte:

Westelike Provinsie: 35: Drieë: Dan du Plessis (2), Paul de Wet, JJ Kotze, Edwill van der Merwe. Doelskoppe: Tim Swiel (5).

Haaie 25: Drieë: Yaw Penxe (2), Pepsi Buthelezi. Doelskoppe: Curwin Bosch (3). Strafdoel: Bosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

piet ·

Griekwas, WP eindstryd in Kimberley kyk vir my na ‘n goeie plan.

Anoniem ·

Die WP is te wisselvallig om 3 keer na mekaar ‘n weg wedstryd te kan wen.

JohanR ·

Waar was die WP die hele seisoen? Miskien moet hulle al hulle wedstryde weg speel, en nie alles los tot die laaste wedstryd om te kwalifiseer nie. Kan WP die Bulle wen…beslis, en dan is dit piet WP teen Griekwas in Kimberley. Voel bitter jammer vir die Pumas want hulle speel goeie rugby.

piet ·

WP het meer wedstryde as al die ander spanne uitgesluit die Bulle gewen. Spanne soos die Pumas en Griekwas is bevoordeel deurdat hulle verniet punte gekry omdat van hulle wedstryde afgelas is weens Covid. WP het dis eintlik dubbel en dwars verdien om in die uitspeelrondes te wees en sou waarskynlik 2de geeindig het op die punteleer as ander spanne nie verniet punte gekry het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.