Curriebeker: WP kry volpunte teen Pumas

Evan Roos is as speler van die wedstryd aangewys (Foto: Evan Roos/Facebook)

Die Westelike Provinsie het Sondagmiddag die moedige Pumas 37-23 in die Mbombela-stadion geklop en vyf Curriebeker-ligapunte ingesamel. WP-ondersteuners kan weer glimlag nadat die span Woensdag flou vertoon het in sy nederlaag van 38-21 teen die Vrystaat Cheetahs.

Die eerste helfte in Nelspruit was ʼn taai tweestryd en die rustydtelling was 16-10 in die besoekers se guns.

Albei spanne het gevaarlik gelyk met die bal in hand, maar talle hanteerfoute aan albei kante het belowende bewegings skipbreuk laat ly.

Die tweede helfte was ʼn heel ander storie. Die WP het met meer vryheid gespeel en die bal wyer geslinger. Die Kaapse span het drie drieë teenoor die Pumas se twee in die tweede helfte gedruk. ʼn Drie van Eddie Fouché vir die Pumas in die 83ste minuut het die telbord beter laat lyk vir Jimmy Stonehouse se span.

WP-losskakel Tim Swiel was die generaal wat die Kaapse span op die voorvoet geplaas het. Hy het 17 van sy span se punte aangeteken wat drie strafskoppe insluit. Hy het al vier van sy span se drieë verdoel. Tristan Leyds het twee drieë vir die wenspan gedruk. Een daarvan was ʼn dwarsskop van Swiel naby die doellyn wat hy uit die lug geraap het en agter die doellyn gaan neersit het.

Die WP se opwindende agsteman 21-jarige Evan Roos het weer uitgeblink met sy dartellopies. Hy is beloon met ʼn drie onder die pale en as speler van die wedstryd aangewys. Roos speel ook flank en slot en behoort ʼn aanspraakmaker te wees vir Springbokgroep vir die Wêreldbeker-toernooi in Frankryk oor twee jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Kan Evan Roos nie nou al Saterdag teen die British en Irish Leeus speel nie? Kan nie slegter speel as Kwagga nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.