Curriebeker: WP trap in Kimberley se Groot Gat

(Grafika: @TheCurrieCup/Twitter)

ʼn Week is ʼn baie lang tyd in rugby. Die Stormers en Westelike Provinsie kan daarvan getuig, want waar albei van hulle slegs ʼn paar dae gelede nog op die kruin was, is albei van die perd afgegooi.

Die Stormers is verlede Saterdag in Kaapstad in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap deur Munster met 19-14 geklop en die Westelike Provinsie, wat versterk is deur ʼn paar spelers wat in die VRK-reeks gespeel het, is Vrydagmiddag met 38-29 deur Griekwas in die Curriebekerreeks geklop.

Nadat die Bulle laat Vrydagaand die Griffons op Loftus Versfeld uitgestof het, hang die WP se kans om tot die uitspeelrondes van die Curriebeker-reeks deur te dring, aan ʼn dun draadjie.

Hulle het tot sesde plek op die puntelys afgeskuif en het 32 punte, met die Haaie (43), Cheetahs (41), Pumas (36), Bulle en Griekwas (albei 36 punte) wat voor hulle ingeskuif het.

Boonop kan hulle ook nog deur die Leeus (31 punte) verbygesteek word, wat Saterdagmiddag teen die Haaie speel.

Dit beteken dat die WP, wat komende Saterdag hul verpligtinge teen die Leeus op Ellispark afsluit, se kanse in die hande van die ander spanne se uitslae is.

Die WP-afrigter John Dobson sal allig sy WP-span met nog ʼn paar sterre laai om te probeer kwalifiseer wanneer die WP teen die Leeus afrond, maar dit kan reeds te laat wees.

Lig die hoede vir Griekwas, wat met ʼn groot spanpoging en klein spelersbegroting die WP se tjank afgetrap ­het ­–­ nie die eerste keer nie, maar die sesde keer in ʼn ry.

Toe die eindfuitjie geblaas het, het die Poubloues mekaar omhels en die tuisskare was op hul voete. Dit wys wat die oorwinning oor die WP vir Kimberley beteken het en die waarde wat daar nog aan die Curriebeker geheg word.

Vergeet van groot name, vergeet van Springbokke, want Griekwas het hulle nie daaraan gesteur nie.

Onbesonge helde soos die komkommerkoel George Whithead, Rosko Specman, Lubablelo Dobela, Johan Mulder, Carl Els, Hanru Sirgel en Dylan Sjöblom het die vonk by hul spanmaats aangesteek om vyf drieë te druk en hul aanspraak lewend te hou.

Boonop het Griekwas ʼn hele paar pluimpies bygekry deur in pienk truie ten bate van die Kankervereniging te speel … wat die WP met rooi gesigte laat teruggekeer Kaap toe.

Punte: Griekwas 38 (14): Drieë: Dylan Sjöblom, Jay-Cee Nel, Lubabalo Dobela, Sean Swart, Sango Xamlashe. Doelskoppe: George Whitehead (5). d Whitehead.

Westelike Provinsie 29 (19): Drieë: Marcel Theunissen (2), Paul de Wet, Willie Engelbrecht. Doelskoppe: Jurie Matthee (3). Strafdoel: Matthee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.