Curriebeker: WP wen morsig teen die Pumas

(Foto: WP Rugby)

ʼn Mens wonder hoe Dok Danie Craven oor die geploeter op Nuweland sou gevoel het.

Vergeet maar van al die dramas en rugstekery in die raadsaal, maar kyk net na wat alles op die veld aangaan.

Die eens kroonprinse van hardlooprugby moet nou staatmaak op hul voorspelers om rolmaaldrieë te druk ten einde oowinnings só te behaal.

Hopelik was dit Vrydagaand die uitsondering op die reël toe die WP die Pumas met 28-14 geklop het nadat die Streeptruie rustyd met 8-5 voor was.

Twee rolmaaldrieë deur die haker Scarra Ntubeni en nog ene deur die loskop Steven Kitshoff, wat die Speler van die Wedstryd-toekenning verdien het vir sy ondernemende spel in die Curriebekerwedstryd teen die Pumas.

Die man ken geen einde nie, hy dryf, dryf en dryf en têkkel, têkkel en têkkel.

Kitshoff was een van die min ligpunte. Draai hom in watte toe; hy is goud werd.

Om dinge darem nie te onooglik te maak nie, het die vlugvoetige vleuel Angelo Davids ook ʼn drie gedruk.

Ja, soms moet spanne lelik wen om in die wedloop te bly, maar ai, hoe gaan jy die toeskouers teruglok?

Dit was ʼn gestoei met ʼn skeidsregter, Paul Mente, wat van die skrille geluid van sy fluitjie gehou het, want hoe anders kan ʼn mens die byna 30 strafskoppe beskryf?

Ja, die opdrag is om spanne vas te vat by die losgemale en die spel te laat vloei, maar die teenoorgestelde is aan’t gebeur.

Hoeveel keer is spelers gestraf wat nie die bal betyds kan plaas nie?

Die Pumas draai ook geen wang nie en staan vir niks terug nie. Hulle het ʼn paar ysters voor en agterlangs is daar talent wat wag om oor te borrel.

Maar daardie klein jakkalsies in die wingerd verwoes hulle byna elke keer.

Punte: WP 28 (8): Drieë: Scarra Ntubeni (2), Angelo Davids, Steven Kitshoff. Strafdoele: Kade Wolhuter (2). Doelskop: Wolhuter.

Pumas 14 (5): Drie: Erich Cronjé. Strafdoele: Devon Williams (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.