Curriebekerreeks: Vrystaat se tameletjie al hoe taaier

Die oomblik van waarheid kom al hoe nader vir die Vrystaatse Cheetahs.

Moet hulle die Curriebeker opsyskuif soos Jurie Roux, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie voorgestel (beslis) het, of gaan hulle voort met hul aanslag in die Curriebekerreeks?

Ja, dis seker belangrik dat die Cheetahs en Southern Kings hul man van 1 September in die nuwe Pro14-reeks staan.

Maar sal die Vrystaatse Cheetahs, wat nou voor in die Curriebekerreeks is nadat hulle die Blou Bulle Saterdag op Loftus Versfeld met 41-40 geklop het, hul plaaslike CB-ondersteuners wil teleurstel?

Hulle het net eenvoudig nie genoeg spelers om twee volhoubare groepe weekliks te kies nie, veral nie met een of twee Bokke wat nie beskikbaar is nie, verskeie spelers wat op die krukkelys is en ʼn paar wat groener weivelde gaan soek het.

Een van die spanne en reekse sal noodgedwonge afgeskeep word.

Die vraag is of die wedstryd op 1 September teen Ulster belangriker as ʼn Curriebeker-kragmeting met die Sharks op 2 September is?  Gaan die Cheetahs hul beste span kies wat op 9 September teen Munster speel, of gaan die bestes teen die Westelike Provinsie in die Curriebekerreeks uitdraf?

Saru stel die Pro14-reeks voorop, maar is dit regverdig teenoor die plaaslike ondersteuners wat die Curriebekerwedstryde bywoon, en wat die reeks deur die jare ondersteun het?

Met meer as ʼn volle tweede ronde wat nog voorlê, kan baie nog gebeur. Maar soos sake nou staan, sal die Curriebekerreeks deur die Vrystaatse Cheetahs (21 punte), die Sharks (20), Westelike Provinsie (16) en die Blou Bulle (14) uitgespook word.

As die Vrystaat egter nie hul beste span vir die oorblywende wedstryde mag kies nie, kan dit die deur vir Griekwas (13 punte voor Sondagmiddag se wedstryd) en selfs ook nog die Goue Leeus oopmaak, al is hulle Vrydagaand op Nuweland met 39-3 deur die WP op Nuweland verneder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frans C ·

As ‘n mens op twee stoele gelyktydig probeer sit val jy gewoonlik tussen die twee op die grond.

Johannes van Rooyen ·

Curriebeker het einlik nie meer ñ waarde nie standard is swak kyk maar na hv. Toeskouers is daar SARU ondersteun waar daar vir hulle geld in is het nie ñ saak met ondersteuners nie

Hannelie ·

Dit is nou al die 2e berig waar julle oir dieselfde onderwerp kla. Hou tog asseblief op. Kry ‘n ander storie. Die Curriecup is nie die begin en einde van rugby in Suid-Afrika nie. Liewe genade!

groot cheetah ·

Hannelie
Die Curriebeker hou GROOT waarde in vir die Vrystaat en sy ondersteuners.
Pro14 se tye benadeel Curriebeker en Pro14 vertonings.

Nico K ·

Ek self is ‘n groot Curriebeker ondersteuner en dink nie die die Cheetah ondersteuners gaan veel belangstel in oorwinnings in die Pro 14 nie. Maar op die lang termyn mag die belangstelling dalk groei en dit gee meer geld vir die Cheetahs wat meer spelers kan koop en op die lang duur beter vir die Cheetas gaan wees. Hulle is nou uit die Super reeks uit en die Curriebeker alleen gaan hulle nie help nie. Die Curriebeker tel nie meer baie in SA nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.