Curriebekerreeks: WP bult spiere teen Griffons

Die kaarte in die Curriebeker-reeks is nou behoorlik deurmekaar geskommel nadat die Pumas Vrydagaand op Kingspark teen die Haaie verloor het, die Blou Bulle Griekwas op Loftus Versfeld vertrap het en die Westelike Provinsie Saterdagaand in die Kaapstad-stadion die Griffons met 47 – 28 geklop het.

Die Griffons het weer goed begin, maar het die soveelste keer in die tweede helfte uitgesak.

Die WP, wat ʼn mengsel van ervaring en jeug met Juan de Jongh, Scarra Ntubeni en Ruben van Heerden asook jonges soos Sacha Feinberg-Mngomezulu, Duncan Saal, Kade Wolhuter, Armand Maritz en Paul de Villiers, ingespan het, het sewe drieë vir hul bonuspuntsege gedruk.

Die groot vraag is of die spanne, wanneer die uitspeelrondes in Junie ter sprake kom, by hul huidige spelers gaan hou wat hulle tot daar gebring het, of gaan hulle hul spanne met spelers gaan laai wat in die Verenigde Rugbykampioenskap speel.

Die Vrystaat-Cheetahs, wat Sondagmiddag teen die Leeus speel, se verpligtinge in Europa is nou afgehandel en hul beste span sal voortaan die Curriebekerreeks speel.

Maar wat gaan die Bulle, Leeus, WP en Haaie doen?

Punte:

WP 47 (19): Drieë: Angelo Davids (2), Sacha Feinberg-Mngomezulu, Keke Morabe (2), Juan de Jongh, Ruben van Heerden. Doelskoppe: Kade Wolhuter (6).

Griffons 28 (14): Drieë: CJ Coetzee, Marquit September (2), Robbie Petzer. Doelskoppe: Jaywinn Juries (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.